ANTIPAS HEROUT NO. 16
GOD IS LIEFDE
'n Bespreking van God se reddende liefde
Nico van der Walt
God openbaar Homself aan ons as majestieus in transendente grootheid. Hy is groots, duiselingwekkend. Hy is oneindig, ewig, onveranderlik, almagtig.
Al hierdie dinge sou egter ook kon waar wees van 'n onpersoonlike energieveld. Of van 'n amorele, selfs immorele wese, wreed en wispelturig.
Die heerlikste van die Godsopenbaring is dat Hy 'n Pers��n is - met 'n behae daarin om liefde te gee en te ontvang. Hy is die God van Abraham, Isak en Jakob. Hy is die God van mense!
God is nie net groot nie, Hy is ook goed; nie net lig nie, ook liefde.
GOD IS LIEFDE
Twee maal in 1Joh 4 lees ons: "God is liefde" (v.8, 16). Dis die woorde op 'n duisend kanselklede - omdat dit so 'n basiese waarheid is. Maar wat beteken dit? Soos dikwels die geval met sulke bekende uitdrukkings, het mense sonder tal die skeefste idees daaroor. Die vraag is dus noodsaaklik: wat presies is God se liefde?
By wyse van inleiding, enkele kwalifiserende opmerkings:
Die uitdrukking, "God is liefde", dui nie op 'n absolute identiteit nie. Jy kan nie die vergelyking omdraai nie: "Liefde is God." Dit sou die Skrifopenbaring geweld aandoen, want dit sou God ontpersoonlik en tot 'n abstrakte idee degradeer. Nee, die uitdrukking is bloot 'n Bybelse manier van s� dat liefde tot s� 'n mate deel van God se wese is, dat Hy s� liefdevol is - dat dit is asof Hy liefde self is.
Die Bybel openbaar 'n hele aantal uitnemendhede van God se karakter wat ten nouste met Sy liefde saamhang. Dink maar aan Sy barmhartigheid, goedheid, genade, geduld, getrouheid, ensomeer. Elkeen van hierdie attribute het 'n eie inhoud, maar hulle oorvleuel ook baie. Vir ons doel gaan ons hulle nie probeer ontbondel nie; ons gaan bloot van God se liefde praat - as iets van 'n sambreelterm.
Dat God liefde is, is alles behalwe die somtotaal van wat Hy oor Homself openbaar. Vir ons bespreking is dit belangrik om steeds te onthou dat Hy onder meer ook heilig, regverdig en vol toorn teen sonde is. Baie mense vergeet dit en dink net in terme van Sy liefde. Mens kan Hom egter nooit regtig ken as jy nie 'n omvattende begrip van Sy karakter het nie. En ewe min kan jy die Bybelboodskap in sy geheel en in sy eenheid verstaan.
WAT IS GOD SE LIEFDE?
Op hierdie vraag het die Bybel 'n duisend antwoorde. Met onhanteerbaar baie data, is die beste benadering altyd om so ruim as moontlik te begin en om dan die gegewens 'af te kook' - totdat jy net die wesentlike en essensi�le oorhou. Dit sal ons werkswyse wees.
'n Algemene omskrywing van God se liefde kan so lui: God se liefde is daardie wesensgeneigdheid in Hom wat Hom daartoe dring om welwillend teenoor Sy skepsele te wees - sowel fisies as geestelik.
God het Sy hele skepping lief - selfs na die sondeval. Tog is die Bybel onmiskenbaar duidelik dat Hy nie almal op dieselfde manier liefhet nie - en ook nie tot dieselfde mate nie. Ons durf dus nie ongekwalifiseerd oor Sy liefde praat nie. Ten minste ��n fundamentele onderskeid is noodsaaklik:
Daar is soiets soos God se algemene liefde - wat tot uitdrukking kom teenoor �lle mense (om maar by mense te bly). Ons sien dit in Sy beskerming, versorging en geduld - en veral ook in Sy opregte en dringende oproepe tot bekering en redding aan alle mense.
Daar is God se besondere liefde. Dit word aan sekere mense gegee - as redding van die krag en gevolge van sonde.
Die Bybel se aksent val baie sterk op God se besondere liefde. En dit is duidelik ook wat Johannes in gedagte het as hy s� dat God liefde is (vgl. 1Jh 4:9-10). Dit beteken nie dat Sy algemene liefde - meestal algemene genade genoem - onbelangrik is nie. Dis 'n fassinerende en belangrike saak (sien AH 12), maar ons bly sonder twyfel by die Bybelse beklemtoning as ons ons van nou af bepaal by Sy besondere liefde. Dit is, trouens, die hart van die Skrifopenbaring.
GOD SE BESONDERE LIEFDE
God se besondere liefde is Sy liefde as Verlosser vir sondaars, soos dit tot uitdrukking kom in die onherroeplike skenking van die ewige lewe in volmaakte verbondsgemeenskap met Hom, in die gee van Sy Seun om alles te doen wat vir hierdie verlossing nodig is, en in die stuur van Sy Gees om hierdie verlossing in hulle lewens uit te werk.
Selfs hierdie omskrywing is te veel vir ons doel. Maar ons kan dit verder afkook - totdat 'n gekonsentreerde ekstrak van net 3 woorde oorbly:
God red sondaars!
Hiervan kan niks weggeneem word nie. Dis die absolute minimum. Dis die ondeelbare hart van die evangelie. Enigiets anders is 'n 'ander evangelie' (2Kor 11:4; Gl 1:6-10).
In die Pastorale Briewe word 5 kernagtige geloofsformules aangetref - elkeen s� getipeer: "Dit is 'n betroubare woord ..." (1Tm 1:15; 3:1; 4:8-9; 2Tm 2:11-13; Tit 3:3-8). Luister hoe druk een hiervan die kern van die evangelie uit: "Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die w�reld gekom om sondaars te verlos" (1 Tm 1:15). Rm 5:8 dra dieselfde idee: "Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was."
Kom ons kyk nader na die 3 dele van hierdie evangelie-nukleus.
WIE HET LIEF? GOD DRIE-ENIG!
Omdat die Drie-enige God is wie Hy is, is Sy besondere liefde iets wonderliks. Dis uniek en volmaak. Hieronder volg 13 fassette of kenmerke daarvan:
Dit is Christosentries. Geen sondaar word ooit anders gered as op grond van Christus se verdienste nie. Hieroor is die Woord van God vlymskerp duidelik (Jh 14:6; Hd 4:12; 1 Tm 2:5).
Ewe belangrik is die Nuwe Testamentiese aandrang dat Christus �f alleen-redder is, �f glad nie. Die inroer van selfs net 'n mespunt vertroue in my eie verdienste of seremoni�le godsdienstigheid, is diskwalifiserend. (Vgl. Gl 5:2-4, asook AH 2 en 3).
Dit is geestelik. Die Heilige Gees is as 't ware die Koerier wat God se liefde kom aflewer. En Hy hou dit in stand. Sonder Sy oortuigende (Jh 16:7-11), wederbarende (Jh 3:5-8; Tit 3:5) en verligtende werk (1Kor 2:10-16) kan niemand reddend met Christus verenig word of bly nie.
Dit is ewig. Dit strek vanuit die ewige verlede, dwarsdeur die tyd, tot in die ewige toekoms in. Voor die skepping al het Hy Sy geliefdes uitgekies. En Hyself dra hulle deur tot en met die volmaaktheid (Jh 6:35-40; Rm 8:28-30; Ef 1:4; 2Tm 1:9; 1Pt 1:20; Op 13:8; 17:8).
Dit is soewerein. As Skepper is Hy die onbetwisbare Eienaar van alles en almal. Wie kan Sy reg bevraagteken om Sy liefde uit te stort soos en op wie Hy wil? (Rm 9:6-29).
Dit is onvoorwaardelik en onverdiend. Dit word geensins ontlok of bepaal deur enige verdienste in enige persoon wat dit ontvang nie (Hd 13:48; Rm 9:11-13, 16; 10:20; 1Kor 1:27-29; Ef 2:8; Fl 2:12-13; 2Tm 1:9).
Dit is onfeilbaar effektief. Omdat God werk soos Hy werk, is dit onmoontlik om Sy liefde enduit te weerstaan. Hoe werk Hy? Hy verander jou hart - die sentrum van jou persoonlikheid! En omdat jou hartsgesteldheid jou lewe bepaal, m��t 'n geestelike hartoorplanting dramatiese effekte h�. As God Sy wette op die tafels van jou hart skryf, word jy 'n slaaf van jou eie begeertes - en jy dien Hom met 'n hartstog! (Jer 31:33; Eseg 36:26-27; 37:1-14; Jh 5:21; Hd 16:14; Ef 2:1, 5).
Dit is onherroeplik. As die ewige, onveranderlike, alwetende en almagtige God op 'n lewe beslag l�, dra Hy hom dwarsdeur tot en met die heerlikmaking - al 'sterf so 'n man of vrou ook 'n duisend dode' in die proses (Jes 54:10; Jh 3:36; 5:24; 6:35-40; 10:27-30; 17:11, 12, 15; Rm 8:1, 28-30, 35-39; 1Kor 1:7-9; 10:13; Ef 1:13-14; 4:30; 1Ts 5:23-24; Hb 9:12, 15; 10:14; 1Pt 1:3-5; 1Jh 5:11-13, 18).
Dit is persoonlik. Dit is op spesifieke mense gerig (Jh 6:39; 10:27-30; 17: 2, 6, 9, 24; Hd 13:48; 18:9-10; Op 13:8; 17:8).
Dit is korporatief. Die ware kerk is gesamentlik, as 'n organiese geheel, die bruid van Christus (2Kor 11:2; Ef 5:25-27; Op 19:7-9; 21:2).
Dit is volledig. Die uitwerking van Sy reddende liefde is in elke mens wat dit ontvang 'n ge�ntegreerde geheel. En elkeen wat gered word, ervaar dieselfde essensi�le elemente van redding. (Rm 8:28-30).
Dit is universeel. Die Here se geliefdes kom vanuit elke nasie, stam, volk en taal (Ef 2:13-22; Op 5:9; 7:9).
Dit is histories. Hierdie bemindes kom vanuit al die eeue. Elke geslag sal verteenwoordig wees tydens die bruilofsmaal van die Lam.
Dit is onbegryplik. God se besondere liefde styg bo ons begrip uit - dit laat ons denke duisel (Ef 3:18-19).
VIR WIE HET GOD LIEF? SONDAARS!
As God dan nie alle mense reddend liefhet nie, ontstaan die vraag: wie is die bevoorregtes dan? Op wie l� God se besondere liefde beslag? Watter soort mense word deur Hom oorrompel?
Die Bybel antwoord klokhelder: God red s�ndaars - �s sondaars - ten spyte van wie en wat hulle is of nie is nie! Hy het lewende dooies lief - mislukkings in terme van Sy volmaakte standaarde, rebelle teen Sy Wet, mense wat algeheel magteloos is om hulle ewige lot te verander.
Dis 'n moeilike les, maar ons m��t dit leer.
Dit beteken dat God se liefde op niemand beslag l� - �mdat hy iets is nie. Nooit is redding te danke aan iets in die sondaar self nie. Mense word dus nie gered omdat hulle hul bes probeer nie; of omdat hulle beter vaar as ander nie. Opvoeding, rykdom, geleerdheid, begaafdheid en skoonheid speel geen rol nie. Niemand is 'n voorwerp van God se besondere liefde omdat hy godsdienstig, of 'n kerkganger of tiendegee�r is nie. Ewemin is sondebelydenis, of vroomheid, of 'uitkniel', of restitusie 'n kwalifikasie. God red nie mense omdat hulle hul laat doop, of siekes verpleeg, of armes kosgee, of sendingwerk doen nie. Selfs is die aanroep van die Here of die grootste geloof nooit 'n grond vir redding nie.
Andersom gestel: God het sondaars lief ten spyte van wie of wat hulle is. Hy red skuldiges, ellendiges, vuiles, mislukkings, uitvaagsels en patete. Hy red uitsigloses, moedeloses, koersloses, hopeloses. Christus het gekom vir blindes, lammes, kreupeles, dowes, stommes. God red oortreders van Sy Wet, mislukkings i.t.v. Sy standaarde: godlo�naars, afgodsdienaars, lasteraars, sabbatsbrekers, ouer-veragters, moordenaars, egbrekers, diewe, leuenaars, hebsugtiges. Hy red geestelik-dooies, vleeslikes, w�reldgelykvormiges, satanbeheerdes, helgedoemdes.
In hierdie verband moet 'n lewensbelangrike waarheid beklemtoon word - soveel te meer omdat dit so dikwels verwaarloos word: God red nie net sondaars as sondaars nie; Hy red slegs sondaars wat weet dat hulle sondaars is en dit bely sonder om doekies om te draai.
Dit is wat die Here bedoel as Hy s� dat Hy net vir sondaars gekom het (Lk 18:9-14; 19:10; Mk 2:17, OAV). Een van die Jode se grootste probleme was hulle godsdienstige selfvoldaanheid. Dit het hulle doof gemaak vir die evangelie.
Waarom is dit so? Sonder ware sondebesef is Christus se versoeningswerk net van akademiese belang. Uiters kan dit tot 'n kunsmatige geloof lei.
Nog belangriker: God red sondaars ten einde Homself te verheerlik. En dis tog duidelik dat Sy eer gedien word as ek werklik verstaan hoe afhanklik ek van Sy genade is - iets wat sonder sondebesef net nie moontlik is nie.
Na bekering duur sondebesef en genadebegrip voort. En soos mens daarin groei, neem jou dankbaarheid en gehoorsaamheid toe - wat die Here nie net behaag nie, maar ook verheerlik.
Mt 5:3 is die fondasie van 'n lewe van geregtigheid. Daarom begin Jesus Sy Bergrede s�: "Gese�nd is di� wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel."
Paulus het weliswaar nie voor sy bekering deur 'n seisoen van sondebesef geworstel nie, maar as die Here se liefde buite Damaskus op hom beslag l�, is hy onmiddelik 'arm van gees' (Mt 5:3, OAV). En wie kan sy diep sondesef dwarsdeur die res van sy lewe betwyfel?
HOE KOM GOD SE LIEFDE TOT UITDRUKKING? IN REDDING!
In die redding van sondaars werk die Vader, die Seun en die Heilige Gees saam in soewereine wysheid. Hulle het s��m lief. En hulle werk in volmaakte harmonie om hierdie liefde tot uitdrukking te bring.
Hoewel elkeen van die Goddelike Drie-eenheid se drie Persone volledig betrokke is by �lke aspek van 'n sondaar se redding, plaas die Woord tog tot 'n mate dan di� Persoon voorop, dan d��rdie Een. Mens wil nie oorvereenvoudig nie, maar 'n onderskeid is tog nuttig: die Vader beplan die redding; die Seun bewerk dit; en die Heilige Gees bedien dit.
Die Vader het reeds voor die skepping diegene liefgekry en verkies wat nie sou kry wat hulle verdien nie, maar wat die teendeel daarvan sou ontvang - naamlik genade.
Hulle vertrou Hy dan aan die Seun toe (Jh 6:37, 39; 10:29; 17: 2, 6, 9, 24).
Die Seun kom in die volheid van die tyd as Middelaar - om alles te doen wat nodig is vir die verlossing van elkeen wat die Vader aan Hom gegee het. En Hy doen dit op 'n wyse wat die Goddelike geregtigheid nie systap nie, maar dit, trouens, wonderlik demonstreer.
Die Heilige Gees verwerklik die Goddelike liefde en redding in die lewens van elk van die begenadigdes. Hy oortuig van sonde, roep en wederbaar; Hy heilig, verlig, verseker, lei, versterk en rus toe.
Wat gebeur met 'n sondaar as God se besondere liefde op hom of haar beslag l�? In sy eerste brief gee Johannes 'n aantal merktekens van egte Christenskap (vgl. 5:13 en dan 2:29; 3:9, 14; 4:7; 5:1, 4, 18).
Elke begenadigde begin op 'n stadium sien: God in Sy heilige geregtigheid; homself as 'n verwerplike sondaar; Christus as enigste oplossing vir sy verskriklike dilemma.
Vanuit sy geestelike bankrotskap omhels hy die Here Jesus as Verlosser en Koning. Soos 'n drenkeling hang hy aan Hom vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid. En met ferm tred neem hy dag na dag die kruis van gehoorsaamheid op.
Hy begin sy sonde haat en vlug gevolglik daarvoor. Om meer en meer soos Jesus te word, raak sy hoogste ambisie. Geleidelik neem die patrone van godsvrug gestalte in sy lewe aan.
Sy broers en susters begin uitstaan asof hulle neonkleurig geverf is. N�rens is hy meer tuis as tussen medegeliefdes van die Here nie.
Jaar in en jaar uit volhard hy teen die begeertes van sy vlees, die suigkragte van die w�reld en die aanslae van die Duiwel. En hoe langer die stryd voortduur, hoe meer besef hy sy totale afhanklikheid van 'n Middelaar. Hy skuil dus al hoe dieper in Christus.
IS JY 'N VOORWERP VAN GOD SE BESONDERE LIEFDE?
Eintlik kan jy net een van twee antwoorde op hierdie brandende vraag gee: 'Ja!' of 'Onseker!'.
Sommige sal protesteer:
"Ek is gewis sonder God en hoop!" Dit s� niks nie. �l die geliefdes is nog nie ingebring nie. Wie weet, dalk is jou 'hartoorplanting' net om die draai.
In elk geval, is daar nie talle Bybelse uitnodigings aan sondaars om in die Here se liefdevolle arms in te hardloop nie. Waarom huiwer jy? Wie se skuld is dit dat jy nog sonder God is? Al struikelblok is jou eie ongehoorsaamheid, onwilligheid en ongeloof. Jy en jy alleen dra die skuld vir jou toestand, nie waar nie?
"Ek stel nie belang nie!" Wel, as God se liefde kom - k�m dit! Een oomblik is jy 'n halsstarrige rebel, die volgende oomblik l� jy op jou gesig voor die Here, en die volgende oomblik is jy Sy ywerige dissipel. S� het miljoene dit al ervaar. God se liefde slaan onverwags toe - onweerstaanbaar!
Wat s� die Woord vir die onsekeres? Dis onnodig om onseker te bly! Die uitnodiging van die Bybel se vyfde laaste vers staan steeds so vas soos die berge: "Die Gees en die bruid s�: 'Kom!' En elkeen wat dit hoor, moet s�: 'Kom!' En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil h�, moet dit kom kry, verniet!" (Op 22:17).
Hierdie is nie net 'n uitnodiging om eenmaal te drink nie; dis 'n bevel om weer en weer te drink. Elkeen wat in opregtheid kom, het die Here se belofte in Jh 6:37: "Ek sal hom wat na My toe kom, nooit, maar nooit verwerp nie." (Gr. letterlik).
Aan die onsekeres s� hierdie uitnodiging en belofte dus: Al het jy hoeveel keer in die verlede gedrink, kom nou weer. Jy bly onseker omdat jy nog altyd halfhartig en kleingelowig was. Kom nou, beslis en gelowig! Kom, maak die transaksie vas - eens en vir altyd!
Spoedig sal die Gees in jou begin roep: 'Vader, my Vader!' (Rm 8:15-16; Gl 4:6). Dan sal jy weet: ja ek, ook ek, is 'n voorwerp van God se besondere liefde.
Net 'n laaste woord aan diegene wat 'Ja!' s� - diegene wat reeds weet dat God Sy besondere liefde op hulle fokus: maak elke dag jou roeping en verkiesing vas - dan sal jy nie struikel nie. En jy sal uiteindelik 'n vrye en feestelike toegang tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, verkry (2Pt 1:10-11, OAV). Dien die Here dus met 'n onverdeelde hart! En laat die sentrale hartstog van jou lewe wees om Hom te behaag en te verheerlik!
Antipas Herout word gepubliseer deur Antipas Lektuur, 'n bediening van die Antipas Baptiste Gemeente in die Vaaldriehoek, met Nico van der Walt as redakteur. Die doel is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die fundamentele God-gesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder.
Hierdie lewensbelangrike waarhede is kernagtig en uitnemend geformuleer in die groot Reformatoriese Belydenisskrifte en die wekroepe van die sestiende eeuse Reformasie:
Die Skrif Alleen, Genade Alleen, Christus Alleen, Geloof Alleen, Die Eer van God Alleen.
This publication is also available in English
As u op ons poslys wil wees om gedrukte uitgawes van die
Herout gratis te ontvang, stuur u naam en posadres aan:
Antipas Herout, Posbus 263435, Drie Riviere, 1935
Tel: (016) 423 3639 Faks: (016) 454 0387
of
E-pos ons by : [email protected] en vra
om op ons adreslys bygevoeg te word.
Antipas Lektuur is in die lewe geroep om die waarheidsevangelie in sowel Afrikaans as Engels so wyd en goedkoop moontlik te versprei. Besonderhede van ander studieboeke, traktate, geselekteerde boeke teen net meer as kosprys en oudiobande, kan van bogemelde adres verkry word.
Dit staan enigeen vry om die inhoud van hierdie Herout met of sonder erkenning te gebruik. Die skrywer het immers self baie hulp by talle ander gekry. Hy glo dat die
inhoud 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring is, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie.