Antipas Herout No.12
GOD SE
ALGEMENE GENADE
'n Noodsaaklike perspektief op die w�reld waarin ons leef
Nico van der Walt
DIE PROBLEEM
Niemand kan deur die bril van God se standaarde na homself kyk, na die w�reld rondom hom, na die verloop van die geskiedenis, sonder om diep onder die indruk te kom van die universele en verderflike feit van sonde nie.
Die gelowige behoort natuurlik nie verbaas te wees nie, want dis presies wat die Bybel leer. Kyk maar na gedeeltes soos Rom 3:9-20 en Ef 2:1-3. Trouens, die Woord bevat soveel openbaring hieroor, dat die erfsonde en die radikale verdorwenheid van die mens deel is van die mees basiese leerstukke van die Christelike geloof. Dit is dan ook waarhede waarsonder die Bybel nie verstaan kan word nie.
Dit lei egter tot allerlei vrae in die gemoedere van denkende Christene. Dikwels sukkel gelowiges om die kloutjie by die oor te kry. Hoe is dit dat mense wat in swetsende rebellie teen God leef, steeds deur Hom geduld word? Hoe is dit dat diegene wat onder Sy toorn verkeer en na die ewige verdoemenis onderweg is, nog soveel goeie gawes uit Sy hand ontvang? Hoe is dit dat miljoene wat nie deur die Gees vernuwe is nie, soveel wonderlike gawes en kwaliteite kan h�? Wat van die mens se prestasies in wetenskap, tegnologie en kuns? Wat van die adel en medemenslikheid wat tog ook oral onder ongelowiges voorkom?
Dus: hoe geniet 'n sondeverrotte en helgedoemde mensheid soveel guns en goedheid uit die hand van 'n heilige en regverdige Skepper?
DIE OPLOSSING
Die antwoord l� grootliks in die feit van God se algemene genade.
Die Bybel openbaar dat God se Gees ��k in en vir ongelowiges en nie-uitverkorenes werk. Dis weliswaar nie 'n reddende werk nie - nie wederbarend of heiligmakend nie - maar dis nogtans 'n genadewerk, want almal verdien eintlik die teendeel. En dis algemeen, want alle mense het op een of ander wyse daaraan deel, hoewel tot 'n mindere of meerdere mate.
God se algemene genade is Sy liefde, barmhartigheid, goedheid en geduld teenoor die gevalle skepping, in besonder die mensheid, soos dit tot uitdrukking kom in Sy bewaring van en voorsiening aan almal.
Omdat dit grootliks in die Bybel om God se reddingsplan in Christus gaan - Sy besondere genade - is gelowiges geneig om van Sy algemene genade te vergeet. Maar dis 'n uiters belangrike Skrifwaarheid. Dit help ons om God beter te ken, om die w�reld om ons beter te verstaan, om ons plek daarin te vind, en om op 'n gesonde wyse daarmee om te gaan.
Mag onderstaande perspektiewe die leser help om met groter gemak die balanse van 'n godvrugtige lewe te handhaaf. Per slot van sake worstel ons almal met die reeds-nog-nie-spanninge van ons verlossing. 'Ons is in die w�reld, maar nie van die w�reld nie', is makliker om te s� as om uit te leef.
UITDRUKKINGS VAN GOD SE ALGEMENE GENADE
Die Woord gee duidelike aanduidings dat algemene genade twee kante het: die negatiewe kant wat tot uitdrukking kom in weerhouding, bedwang en tempering, en die positiewe kant van versorging en voorsiening.
Eerstens, die negatiewe kant van God se algemene genade.
God weerhou die mens se verdorwenheid om tot ekstreme verrotting te ontaard.
Die gevalle skepping, besonderlik die gevalle mens, dra die kiem van selfvernietiging. Sonde is destruktief van aard. Maar die Here hou die leisels stewig vas, sodat dinge nie totaal die loop neem nie.
Hierdie aspek van God se algemene genade moet duidelik onderskei word van God se heiligmakende werk in Sy kinders - wat op die terrein van Sy besondere of reddende genade l�. Nee, hierdie aspek van algemene genade wil bloot die w�reld leefbaar hou. Mense word nie goed gemaak nie, hulle word net weerhou om in die volle potensiaal van hulle boosheid in te tuimel.
� Rom 1:18-32 is baie insiggewend in hierdie verband. Drie maal word gemeld dat God mense wat hulle teen Sy algemene openbaring bly verhard (19-23), oorgee - aan hulle sedelike onreinheid, aan hulle skandelike drifte, aan hulle verdraaide opvattings (24, 26, 28).
Hoewel die aksent hier nie op genade l� nie, maar op oordeel, sinspeel die verse tog onmiskenbaar op God se kontrole oor die morele vlak van 'n samelewing. As dit nie vir die Here se goedheid en geduld was nie, sou niks ons daarvan weerhou het om net so erg soos die gevalle engele, die demone, te word nie. Hierbenewens is die verse duidelik dat God se beheer ook wisselend van aard is. Dis waarom die morele peil so van mens tot mens, van samelewing tot samelewing en van tydvak tot tydvak kan wissel.
� Ps 81:12-13 praat van dieselfde ding: "Maar my volk het na my stem nie geluister nie, en Israel was vir My nie gewillig nie. Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel." (OAV).
� Wonderlik gese�nd is hulle wat in 'n tyd leef as God die leisels stewiger vasvat. Wanneer Hy dit egter laat skiet, is dit een van die verskriklikste dinge wat met 'n individu of kultuur kan gebeur.
2Tessalonisense 2 beskryf so 'n afval - waarskynlik die ergste van alle tye - onmiddelik voor die wederkoms van die Here Jesus Christus. "Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie." (v.3). "Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk, maar die een wat die wettelose te�hou, moet eers uit die weg wees ...". (v.7). "Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders en met gruwelike misleiding van di� wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo. En so sal almal wat nie die waarheid geglo het nie, maar die ongeregtigheid verkies het, veroordeel word." (v.9-12).
God verhoed die vernietigende kragte in die fisiese kosmos om heeltemal hande uit te ruk.
Die mens is ergste deur die sondeval getref, maar die bre�re skepping is nie onaangeraak nie, inteendeel (Gen 3:17-18). Rom 8:19-22 bied 'n fassinerende perspektief hierop. Te wyte aan die sondeval is die skepping nie net aan 'verydeling' onderworpe nie, maar ook 'verslaaf aan die verganklikheid'. Die natuur word hier gepersonifiseer en die uitdrukkings dui onderskeidelik op sy 'frustrasie', omdat hy nie sy skeppingsdoel kan bereik nie; en op die beginsel van ontbinding wat in hom aan 't werk is.
� Vanwe� die sondeval is daar 'n onnatuurlike disharmonie tussen mens en dier. Hoewel dit nie meer so aktueel is in vandag se 'makgemaakte' w�reld nie, bied Gen 9 tog 'n baie interessante perspektief op hierdie saak. Na die sondvloed sou mense steeds deur wilde diere bedreig word (v.5), maar God sou dit beperk deur 'n mensevrees in hulle te plaas (v.2).
� Vir elke siekte-epidemie, elke tierende sikloon, elke verwoestende aardbewing, elke uitbarstende vulkaan, trek ons Skepper in Sy goedheid 'n grens: tot hier toe en nie verder nie!
� Dat God voortdurend die sterwensbeginsel in die menslike liggaam temper, word duidelik in Gen 6:3 gesuggereer: "Toe s� die Here: 'My Gees sal nie meer so lank in die mens bly nie, want hy is sterflik. Sy lewensduur sal nou honderd en twintig jaar wees.'"
God onthou Homself daarvan om Sy volle en finale Goddelike toorn oor die gevalle skepping uit te giet - totdat Sy verlossingsplan afgehandel is.
Ons leef in genadetyd. Die bedeling tussen eerste en wederkoms is oestyd. Uit elke nasie word mense gered. Maar, en ons vergeet dit te maklik, die dag sal aanbreek dat die 'uitnodiging tot die groot maaltyd' nie meer staan nie. Dit sal die verskriklike dag van God se groot oordeel wees (2Pet 3).
� Talle Skrifuitsprake herinner ons aan hierdie faset van God se algemene genade. Vgl. ondermeer: "God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer ..." (Hand 17:30). "God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! S� dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?" (Rom 2:4). "Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil h� dat iemand verlore gaan nie: Hy wil h� dat almal hulle moet bekeer." (2Pet 3:9).
Tweedens, die positiewe kant van God se algemene genade.
God versorg Sy hele skepping - besonderlik alle mense.
Aangrypend mooi is Ps 65:10-14: "U sorg vir die land en gee oorvloed, U maak dit baie vrugbaar. Die groot riviere is vol water, U laat die koring welig staan. Alles is u werk! U maak die ploegvore vol water en die kluite nat, U laat hulle sag word van die re�ns, U laat alles welig groei. U kroon die jaar met u goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed! Daar is volop weiding in die woestyn; die bulte juig, die velde wemel van die kleinvee, die vlaktes staan vol koring; hulle juig en hulle sing." (Vgl. ook Ps 104)
Matt 5:44-45 roep ons op om selfs ons vyande lief te h�, want ons Hemelse Vader laat "... immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat re�n oor di� wat reg doen en oor di� wat verkeerd doen." Ook Hand 14:16-17 is glashelder: "Hy het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan, maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle re�n van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak."
� Sommige sal nou vra hoe rampe, met al die gepaardgaande ellende, vertolk moet word.
Wat ons moet begryp, is dat God se algemene genade nie die gevallenheid van hierdie w�reld ophef nie. Wat dit wel doen, is om te sorg dat 'n bepaalde landstreek of samelewing nie heeltemal vernietig word nie, en ook nie h��ltyd in ramptoestande verkeer nie. En dis genade, want sou dit nie ons verdiende lo�n wees nie?
Die eintlike vraag wat mens dus moet vra, is waarom 'n bepaalde ramp nie laas jaar ook gekom het nie - en die voriges? En veral moet ons vra waarom dit ons nie ook getref het nie?
God gee 'n ryke verskeidenheid van voortreflikhede en vermo�ns aan die mens, gelowig �n ongelowig.
Gaan enige plek op aarde - en menslike voortreflikhede l� dik gesaai. Kyk na die kunste, die wetenskappe, die tegnologie - en verwonder jou dat die gevalle mens tot so iets in staat is. Ja, daar is baie ellende, maar op hoeveel plekke heers daar nie ook wonderlike vryheid, medemenslikheid, integriteit, gesinsharmonie, adel en lojaliteit nie?
Agter alles is God se algemene genade!
� Meermale s� die Bybel van mense wat nie deel het aan God se reddende genade nie - dat hulle goed doen (2Kon 10:29-31; Matt 5:46; Luk 6:32-34; Rom 2:14-15). Natuurlik beantwoord dit nie aan die absolute standaarde van God se Wet nie. Wat motivering, beginsel en doel betref, kan dit God nooit behaag nie. Maar in 'n relatiewe sin kan 'n ongelowige moreel uitnemend lewe en selfs kragtig deur die Here gebruik word in die uitwerk van Sy raadsplan.
Neem byvoorbeeld die tragiese geskiedenis van Saul. En wat van die geheimenisvolle heidense koning, Kores - die Here se 'gesalfde'? (Jes 45:1vv). Nie alleen het hy God behaag toe hy die ballinge bevry en ondersteun het nie; hy is spesifiek deur die Allerhoogste daarvoor opgerig en toegerus. Jehu, koning van Israel, en Joas, koning van Juda, het allermins die Here met onverdeelde harte gedien. Tog word van beide ges� dat hulle goed gedoen het in die o� van die Here (2Kon 10:29-31; 12:2).
Beteken dit dat al hierdie mense gered is? Allermins. Die Bybel gee geen sodanige aanduidings nie.
DIE DOEL VAN GOD SE ALGEMENE GENADE
Sekerlik, soos met alles, is Sy verheerliking die finale doel van God se algemene genade.
Uiteindelik sal alle mense, ook hulle wat hier en nou Sy goedheid ignoreer, misbruik en verag, weet dat elke asemteug, elke krummel op hul tafels, elke oomblik van vrede en voorspoed - 'n gawe uit Sy hand was. Hulle sal toegee dat Hy oneindig meer vir hulle gegee het as wat hulle ooit toegekom het. Trouens, hulle sal erken dat hulle eintlik die teenoorgestelde verdien het van wat hulle gekry het. Hulle sal met gebuigde knie� (Rom 14:11) bely dat Hy 'n God van liefde, barmhartigheid, geduld en trou is.
God se algemene genade het ook 'n meer onmiddellike doel. Terwyl niemand die opregtheid van Sy goedheid teenoor 'n gevalle w�reld moet bevraagteken nie, staan dit sekerlik ook in 'n baie besondere sin in diens van Sy verlossingsplan.
Hierdie w�reld, en die voortgang van die geskiedenis, is die verpakking waarbinne die evangelie verkondig en die oes ingebring word. Totdat die laaste uitverkorene gered is, sal hierdie w�reld in stand gehou word. Die oomblik as hy of sy in Christus invlug, is die geskiedenis se dae getel! Per slot van sake word die onkruid ter wille van die koring gespaar (Matt 13:24-30, 36-43). Vergelyk ook 1Tim 2:2 en konteks.
ENKELE OPMERKINGS
God werk middellik, Hy gebruik instrumente. In hierdie weerhouding van totale morele disintegrasie, is drie van Sy belangrikste stukke gereedskap die owerheid, die ouerhuis en kultureel-maatskaplike groepsdruk.
� Ons moet nooit vergeet dat die owerheid 'n gawe van God se algemene genade is nie. Die Nuwe Testament stel dit in die allerduidelikste terme (Rom 13:1-7; 1Pet 2:13-14).
Ten spyte van elke regering se gebreke, bly dit eenvoudig 'n feit dat selfs 'n slegte regering beter is as g��n regering nie. Desondanks die gruwels van sovele regimes, is dit 'n feit dat enige samelewing spoedig tot barbarisme en anargie verval sonder 'n staatsmasjinerie.
� Die rol van toegewyde ouerlike opvoeding en dissipline in die handhawing van orde en morele standaarde in 'n samelewing, kan beswaarlik oorskat word. Toe 'Dr. Spock' die Spreukeboek (13:24; 22:15; 23:13-14; 29:15,17) in westerse huishoudings vervang het, het die beskawings-doodsklok begin lui. Om 'n kind te 'bederf', beteken presies wat die woord s�. Los hom, en sy aangebore verdorwenheid sal sorg dat hy wat eintlik 'n 'olyfboom' moes word (Ps 128:3) in 'n stuk wilde onkruid ontaard!
In hierdie verband speel die skool - en kerklike jeugbediening - uiteraard ook 'n uiters belangrike rol. Dit hef egter nooit die prim�re verantwoordelikheid van ouers op nie; trouens, dis bloot verlengstukke van en hulpmiddels vir die ouerhuis.
� 'Wat sal die mense s�?', word vandag grootliks verag - en sekerlik kan dit versmorend raak. Maar enige denkende mens sal weet dat die samelewing se gemeenskaplike norme van reg en verkeerd 'n wonderlik behoudende rol speel. In God se algemene genade is hierdie 'stem van die volk' normaalweg bewarend. Hoe werk dit? Rom 2:14-15 dra die antwoord: "Wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself 'n wet al het hulle nie die wet nie. Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan. Ook hulle gewetens getuig daarvan wanneer hulle in 'n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word."
~ Waarom begin morele verval gewoonlik in stede? Die antwoord l� hier. Vanwe� menslike opeenhoping kan ons natuurlike ingesteldheid op ons medemens eenvoudig nie bybly nie. Oorbelading van hierdie fakulteit lei tot die ineenstorting daarvan - met die gevolg dat ons mekaar nie meer ken en konsidereer nie. Vandaar die tipiese lewensingesteldheid: my buurman, met sy opinies oor m� sedes - of gebrek daaraan - kan gaan doppies blaas!
Dikwels vloei God se algemene genade deur Sy kinders na hierdie w�reld toe.
� As God vir Abraham roep om Vader van die verbondsvolk te wees, belowe Hy: "En Ek sal jou 'n groot nasie maak en jou se�n en jou naam so groot maak, dat jy 'n se�n sal wees. En Ek sal se�n diegene wat jou se�n, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde gese�n word." (Gen 12:2-3, OAV).
Natuurlik dui hierdie se�n vir die nasies in die eerste instansie op God se verlossingsplan in Christus (Gal 3:8), maar dit sluit nie God se algemene genade uit nie. Gelowiges is op talle maniere instrumenteel in die vloei van die Here se goedheid na die w�reld toe.
~ Soms word die ongelowiges gewoon 'ter wille van die gelowiges' gese�n. So kon Laban vir Jakob s�: "Dink tog aan wat jy vir my beteken. Ek het die tekens gelees en agtergekom dat die Here my se�n om jou ontwil." (Gen 30:27). So ook is Potifar se huis ter wille van Josef gese�n (Gen 39:5). Was Paulus nie op die skip wat hom Rome toe geneem het nie, wonder mens hoeveel die skeepsramp sou oorleef het (Hand 27:24, 42-44).
~ As gelowiges hulle geloof uitleef, het hulle 'n veredelende invloed op hulle omgewing - hulle is 'sout vir die aarde' en 'lig vir die w�reld' (Matt 5:13-16). Uit die konteks is dit egter duidelik dat dit net gebeur as hulle lewens lyk soos die 'saligsprekinge' dit beskryf (5:3-12).
Is dit waarop Jesaja sinspeel wanneer hy s� dat Juda soos Sodom en Gemorra sou gewees het, as die Here nie 'n klein klompie ware gelowiges laat oorbly het nie (Jes 1:9)?
~ Gelowiges word ook geroep om aktief en doelbewus hulle Hemelse Vader se liefde en versorging aan 'n gevalle w�reld te bedien. Hoeveel maal roep Jesus nie Sy dissipels op tot barmhartigheid teenoor die armes - en selfs hulle vyande nie? (Matt 5:44-48; Luk 6:35-36).
~ Hier het ons belangrike Bybelse lig vir hoe Christene hulle beroepslewe moet beskou. In bykans enige beroep kan 'n gelowige homself as 'n bedienaar van die Here se algemene genade uitleef. Medici, onderwysers en maatskaplike werkers, byvoorbeeld, kan dit sekerlik maklik raaksien. Maar hoeveel Christenwerkgewers besef dat hulle gawes en ondernemingsgees meewerk in die versorging van werknemers en hulle gesinne? En hoeveel boere dink in hierdie terme oor hulle oeste?
� Een van die merkwaardigste illustrasies van hierdie waarheid is waarskynlik te sien in die ontwikkeling van die westerse beskawing sedert die sestiende eeuse reformasie. Watter ingeligte kan die omvangryke en opheffende effek van Calvyn en sy Institusie betwyfel? Wat sou Engeland sonder die Puriteine gewees het, en Amerika sonder die Pelgrimvaders? Historici stem saam: sonder die evangeliese herlewing van die agtiende eeu sou Engeland die weg van die Franse Rewolusie gevolg het. In plaas daarvan was die kerk in die Britse Eilande vir bykans twee eeue daarna op die voorpunt van die sendingontploffing wat die w�reld tot vandag toe skud.
� Die omgekeerde is helaas ook waar. Skaars begin die kerk verval, en morele ontbinding begin in die w�reld rondom hom intree. Sonder twyfel het ongeloofsteologie veel te doen, nie net met die deformasie van die kerk in Europa (en wyer) nie, maar ook met die huidige dekadensie van die westerse samelewing.
Wat s� ons huidige morele neusduik oor die getrouheid van die Suid-Afrikaanse kerk die afgelope jare?
Miskenning en misbruik van God se goeie gawes sal eendag die grond wees van 'n strenger oordeel oor diegene wat verlore gaan. "Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie ge�is word ..." (Luk 12:48). Dis nie moeilik om te verstaan waarom vertrapping van die Here se barmhartigheid Sy toorn opwek nie. So word die guns wat bekering moes hupstoot (Rom 2:4) eendag die meedo�nlose aanklaer en basis vir oordeel. Dis hoekom dit vir Sodom draagliker sal wees in die oordeelsdag as vir Kapernaum - wat bevoorreg was om Christus se heerlike werke van liefde, goedheid en krag te beleef (Matt 11:20-24; Luk 10:13-15).
Dis uiters, uiters noodsaaklik om die verhouding tussen God se besondere of reddende genade, enersyds, en Sy algemene genade, andersyds, reg te verstaan. Enige denkende en verantwoordelike Christen spartel immers voortdurend om hierdie dinge in gesonde balans te hou.
� Die onderskeid tussen hierdie twee aspekte van God se genade moet steeds kompromieloos gehandhaaf word. Die twee verskil radikaal. Die aard is heeltemal anders, die uitdrukking uiteenlopend, en die doel pole uit mekaar.
Dis hoogs na�ef en Bybelse onsin om te reken dat iemand gered is bloot omdat hy of sy 'n 'goeie mens' is. Natuurlik word ware Christenskap ook aan sy moraliteit herken, maar dit beteken nie dat dit net Christene is wat moreel uitnemend lewe nie.
Die Farise�rs het ho� sedelike standaarde gehandhaaf. En wat van Cornelius? In Hand 10:2 lees ons: "Hy was godsdienstig en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid." Tog, as Petrus later verslag doen, vertel hy hoe 'n engel vooraf vir Cornelius ges� het: "Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon daar haal wat ook Petrus genoem word. Hy het n boodskap vir jou waardeur jy gered sal word, jy en jou hele huisgesin." (Hand 11:13-14).
Niemand word op grond van sy moraliteit gered nie! Mense word op grond van Christus se middelaarswerk gered. En dit realiseer deur geloof alleen. Maar, let op, geloof het inhoud. Cornelius moes Petrus se boodskap - die evangelie - hoor, voordat hy gered is. Vgl. ook Joh 17:17-20; Rom 10:13-17; 1Kor 1:21; 2Tess 2:13-14; 1Tim 4:16; Jak 1:18; 1Pet 1:23.
Geloof sonder werke is dood (Jak 2:14-26), maar werke sonder geloof - met 'ware waarheid' as inhoud - is tevergeefs.
� Tog moet ons versigtig trap vir 'n valse teenstelling - asof God se reddende genade die goeie gawes van Sy algemene genade buite perke plaas. Per slot van sake kom ook laasgenoemde van die Here self.
~ God se reddende genade in iemand se lewe werk heiligend in op die goeie gawes van Sy algemene genade. Want so 'n persoon leer gou-gou om hierdie gawes in te span in diens van die Here en die uitdra van Sy evangelie. Ware dissipelskap is mos nie w�reldmydend nie; dis w�reldreikend.
~ Presies hier l� die sleutel tot die veredelende invloed van rasegte en gespierde Bybelse Christenskap. Want dit het 'n diep agting en waardering vir wat goed en edel en verhewe is in hierdie lewe. Dit weet mos vanwaar hierdie dinge kom.
Dit verlustig hom in die Skepper se vingerafdrukke op die w�reld van stof, en plant, en dier, en mens. Dit omhels die Vader se eindelose mildadigheid in die alledaagse, nie net as Sy versorging nie, maar ook as Sy traktering. Dit verwonder hom oor die geskakeerdheid van menslike vaardigheid, en harnas wetenskap, tegniek en kuns in diens van die Koning.
Om bykans elke nering hang dit 'n stralekrans. Alles wat dit doen, doen dit van harte - soos vir die Here (Kol 3:23). In Sy Naam skoffel, skaaf en skrop dit (Kol 3:17). Om Hom te verheerlik, stel dit vas, steek dit af, stapel dit op en stem dit in (1Kor 10:31).
Met oorgawe ontvang dit alles wat God geskape het as goed (Rom 14:14; 1Tim 4:4-5). Uit volle bors sing dit Ps 24:1: "Die aarde en alles wat daarop is, die w�reld en di� wat daar woon, alles behoort aan die Here ..."
� Natuurlik is ware Christene vreemdelinge en bywoners hier - op soek na 'n vaderland (Heb 11:10, 13-16; 1Pet 1:17; 2:11). Maar met geloofso� sien hulle die pelgrimspad bestrooi met goeie gawes van hulle Hemelse Vader. En hulle weet dis spatsels belofte - wat hulle weer en weer herinner aan die nuwe aarde waarheen hulle op pad is.
� Ware Christenskap is veeleisend - baie! Om die koninkryk in te gaan, verg kragtige inspanning (Matt 11:12). En die pad loop deur baie verdrukking (Hand 14:22). Eintlik is dit oorlog, niks minder nie! (Ef 6:12).
Wat God se algemene genade betref, beteken dit dat die Christen se smal pad aan weerskante gapende afgronde het.
~ Hierdie oorlog is s� fel dat hy, aan die een kant, nie kan bekostig om nog met verkeerde vyande ook te baklei nie. Te veel geestelike Don Quixotes veg teen God se goeie gawes - met die swaard van askese en die spies van onttrekking (Rom 14:17).
~ Aan die ander kant is dit eenvoudig 'n feit dat mens sag en lui gemaak word deur 'n oormaat van die goeie. Christenkrygers weet dit. Hulle verstaan die ironie - dat selfs die Here se gawes, uitsoekerig en gulsig misbruik, dodelik kan wees. Daarom kasty hulle hul liggame en onts� hulleself allerlei dinge - ter wille van 'n onverwelklike oorwinnaarskroon (1Kor 9:24-27).
~ Maar daar is 'n nog groter rede waarom regte dissipels, die kruisdra-soort dus, nie so dikwels van die goeie gawes van God se algemene genade geniet nie: hulle kom eenvoudig nie daarby uit nie! So besig is hulle met die uitnemende, dat die goeie tweede viool moet speel. Hulle het altyd meer om te doen as wat hulle kan. Soos Elisa se slaaf, is ook hulle o� oopgemaak om te sien waarvan andere nie eers weet nie. Om hulle lewe dit van die Here se werk en gawes en uitdagings. Maar bo alles troon een hartstog uit: die koms van die koninkryk! En d�s waarheen hulle tyd en middele en energie maar weer en weer grawiteer.
Dis nie aldag vir hulle maklik nie. Tussen die goeie en die uitnemende weet hulle is daar nie 'n teenstelling nie. Maar die uitnemende verg alles. Gevolglik moet die vriendelike uitnodigings van die goeie soos klokslag van die hand gewys word. Al behoort alles dus aan hulle (1Kor 3:22), bly die bykans verskeurende prioriteitspanning van 1Kor 7:29-31 'n belewingswerklikheid: "Ek bedoel d�t, broers: die tyd is min. Van nou af moet di� wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie; en di� wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie; en di� wat bly is, asof hulle nie bly is nie; di� wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie. Ja, di� wat met die dinge van die w�reld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie w�reld soos ons hom ken, is aan die verbygaan."
Dus, volwasse dissipels van die Here is vry om hulle te verlustig in die goeie gawes van God se algemene genade. Hulle weet dit, en wanneer hulle kans kry, doen hulle dit - met dankbaarheid in hulle harte en lof op hulle lippe. Maar hulle harte, die l� elders, ho�r - by die kennis van die Here, by Sy waarheidsevangelie, by Sy gemeente, by Sy verheerliking. En by die kroon van die lewe!
Antipas Herout word gepubliseer deur Antipas Lektuur, 'n bediening van die Antipas Baptiste Gemeente in die Vaaldriehoek, met Nico van der Walt as redakteur. Die doel is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die fundamentele God-gesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder.
Hierdie lewensbelangrike waarhede is kernagtig en uitnemend geformuleer in die groot Reformatoriese Belydenisskrifte en die wekroepe van die sestiende eeuse Reformasie:
Die Skrif Alleen, Genade Alleen, Christus Alleen, Geloof Alleen, Die Eer van God Alleen.
As u op ons poslys wil wees om gedrukte uitgawes van die
Herout gratis te ontvang, stuur u naam en posadres aan:
Antipas Herout, Posbus 263435, Drie Riviere, 1935
Tel: (016) 423 3639 Faks: (016) 454 0387
of
E-pos ons by : [email protected] en vra
om op ons adreslys begevoeg te word.
Antipas Lektuur is in die lewe geroep om die waarheidsevangelie in sowel Afrikaans as Engels so wyd en goedkoop moontlik te versprei. Besonderhede van ander studieboeke, traktate, geselekteerde boeke teen net meer as kosprys en oudiobande, kan van bogemelde adres verkry word.
Dit staan enigeen vry om die inhoud van hierdie Herout met of sonder erkenning te gebruik. Die skrywer het immers self baie hulp by talle ander gekry. Hy glo dat die
inhoud 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring is, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie.