Antipas Herout No.11

 

HEILIGMAKING :

WATERMERK VAN CHRISTELIKE EGTHEID

Deel 2 : Enkele Basiese Beginsels

 

Nico van der Walt

As die Nuwe Testament oor Christene se heiligmaking praat, word op twee maniere daarna verwys. Eerstens praat dit van 'n afgehandelde saak (sien AH 10). Tweedens praat dit van 'n voortgaande, progressiewe proses. Hierop fokus ons nou.

Voortgaande heiligmaking is die proses waarin 'n gelowige, tussen wedergeboorte en afsterwe, as 'n regverdigverklaarde sondaar toenemend van sondeverdorwenheid verlos word en steeds meer vernuwe word in hart, denke, wil en gedrag na die beeld van God en gelykvormigheid aan die natuur van Christus.

Eintlik moet ons van 'voortgaande of progressiewe heiligmaking' bly praat - om dit van die afgehandelde komponent daarvan te onderskei. Maar gerieflikheidshalwe sal ons van nou af net van 'heiligmaking' praat.

HEILIGMAKING SE OUTEUR

God self is die enigste bron van alle heiligheid. 'n Skepsel kan net so min heiligheid voortbring as lewe - en hoeveel te minder 'n gevalle skepsel. Beswaarlik kan 'n groter misleiding van 'n mens besit neem, beswaarlik kan hy 'n meer afstootlike voorbarigheid voor sy Skepper openbaar, as die gesindheid dat hy homself s� kan veredel dat dit hom laat kwalifiseer om vir ewig in volmaakte gemeenskap met die Driemaal-heilige te leef. D�s die rede waarom God alle mensgemaakte godsdiens so verafsku.

Soos afgehandelde heiligmaking, is ook voortgaande heiligmaking van A tot Z 'n geval van God se vrye genade.

Al drie persone van die Drie-enige God is by gelowiges se heiligmaking betrokke. Dit is die wil en werk van die Vader (Rom 9:22-24; Ef 1:3-5; 1Tess 5:23; 2Tim 1:8-9; Heb 10:10 en voorafgaande verse; 13:20-21). Verder is die Nuwe Testament van hoek tot kant vol van die noodsaak van Christus se middelaarswerk vir elke aspek daarvan. En uiteindelik is dit die Heilige Gees wat dit in die gelowige verwerklik (Rom 8:12-14; 15:16; 2Kor 3:3; Gal 5:16-22; 2 Tess 2:13; 1Pet 1:2). Omdat die Gees die direkte bewerker daarvan is, is daar tog 'n sekere klem in die Nuwe Testament op H�m as Heiligmaker.

‘ Terwyl God, en Hy alleen, die Outeur van heiligmaking is, is dit ewe waar dat gelowiges volledig daarin meewerk. Dit beteken nie dat die mens onafhanklik betrokke is, sodat heiligmaking deels God se werk en deels mensewerk is nie. Dit beteken wel dat God s� in die mens werk dat hy as rasionele wese bewustelik en inspannend by die proses betrokke is. Wat my heiligmaking betref, is ek dus volledig en onontkombaar verantwoordelik en aanspreeklik!

� Die medewerking tussen God en mens kom eksplisiet na vore in Fil 2:12-13: "... werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae." (OAV). (Vgl. ook Kol 1:28-29).

~ Let op dat God nie net die begeerte in gelowiges gee nie, maar ook in hulle werk om te werk.

Deel van Eseg 36 se beloftes oor die Nuwe Verbond, is God se belofte: "Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom." (27). Daar is dus nie 'n fraksie heiligmaking in my lewe waarvoor ek enige krediet kan neem nie.

~ Tog is dit �k wat my heil moet uitwerk - en dit met vrees en bewing. Laat niemand onder enige illusie verkeer nie: egte heiligmaking is 'n dag vir dag worstelstryd. Hierdie medewerking verg inspanning, toewyding, dissipline en volharding. Elkeen wat erns maak met sy roeping om heilig voor die aangesig van die Here te leef, se hart - die w�reld van sy gedagtes, begeertes, motiewe en gesindhede - is 'n voortdurende slagveld. Dis hi�r waar oorwinning behaal moet word - want wie my hart regeer, sal noodwendig al my lewensuitdrukkings bepaal.

� 'n Illustrasie mag help om iets van hierdie geheimenisvolle medewerking te begryp: Wind verskaf al die energie wanneer 'n windpomp water vanuit 'n boorgat in 'n dam pomp. Tog is dit die windpomp wat kreunend pomp, nie die wind nie. Sonder die wind (terloops, in sowel Hebreeus as Grieks beteken die woord vir 'Gees' ook 'wind') beland nie 'n milliliter water in die dam nie - maar ook nie sonder die windpomp nie.

Soos in die geval van heiligmaking, is dit hier nie 'n geval van 'n vyftig-vyftig-vennootskap nie. Dis eenhonderd persent betrokkenheid aan weerskante.

� Dit is uiters belangrik om te onthou dat die Heilige Gees in die uitwerk van my verlossing, en dus ook in my heiligmaking, deur genade-middele werk. Die Here het sekere kanale daargestel waardeur Sy genade en se�n in Sy kinders se lewens invloei. Hy werk dus middelik. En dis ons verantwoordelikheid om hierdie genademiddele getrou te gebruik. Dis soos waterpunte in 'n vlugtelingkamp - wie te lui is om water te dra, sal omkom van dors.

Die genademiddele kan in twee groepe verdeel word.

~ Daar is persoonlike of privaat genademiddele - veral omgang met God se Woord en binnekamer-gebed. Elke ware gelowige weet hoe afhanklik hy daarvan is.

~ Daar is gesamentlike of publieke genademiddele. Hier gaan dit om die gemeentelike lewe, en spesifiek om die gepredikte Woord, gesamentlike gebed, die bediening van godvrugtige ouderlinge, die gemeenskap van die heiliges en die sakramente. Elkeen wat deel is van 'n lewende gemeente, sal weet hierdie dinge is meer werd as al die skatte van die w�reld.

‘ Hierdie 'gebalanseerde' benadering van heiligmaking help ons om twee slaggate oor heiligmaking te vermy. Die een mistasting s�, eenvoudig gestel, jy moet dit alles doen, en die ander, jy moet niks doen nie.

Enersyds word vergeet dat heiligmaking 'n genadegawe van God is en deur Sy Heilige Gees in Sy kinders gewerk word. Die gelowige is dus grootliks aan homself oorgelaat.

Hierdie dwaling masel uit in radikalistiese prediking wat selde die groot dade van God in Christus verkondig, maar klokslag die indruk laat dat net die mees toegewydes dit sal maak.

~ Dit lei tot 'n wettisisme wat allerlei mensgemaakte voorskrifte by Christus se verdienste voeg. Hand aan hand hiermee loop 'n eksklusiwisme wat neersien op diegene wat 'minder toegewyd' is.

~ Die teenoorgestelde skeeftrekking steek egter ook gou-gou kop uit. Die mense wat nie kan bybly nie, raak moedeloos en gee boedel oor. Geteister deur minderwaardigheids-gevoelens en onseker oor hulle redding, word hulle Christenskap 'n stuk ellende. Hulle gebede gaan grootliks op in sondebelydenis en, gestroop van vrymoedigheid, raak hulle getuienis stil

~ Dit l� voor die hand dat hierdie dwaling en sy wrange vrugte allermins tot egte heiligmaking lei, inteendeel. Want "Die koninkryk van God is nie 'n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee." (Rom 14:17). Daarbenewens kan 'n moedelose beswaarlik iets beteken in diens van die Here.

Andersyds word vergeet dat heiligmaking 'n saak is van verant-woordelike en bewustelike inspanning en selfdissipline. Noodwendig veroorsaak ook hierdie eensydigheid praktiese skeeftrekkings.

~ Soms word s� geredeneer: omdat wedergeboorte die ontvangs van 'n nuwe hart behels - met God se Wet daarop gegrafeer - sal heiligmaking vanself en spontaan daaruit voortspruit. In 'n sin is dit natuurlik waar. Maar as dan daaruit afgelei word dat dit inspannende en gedissiplineerde heiligmaking onnodig maak, loop die argument skeef. Soos altyd met halwe waarhede, is hier ook 'n Godonterende resultaat - 'n passiwiteit, waarin van egte heiligmaking niks kom nie.

Hierdie beskouing is 'n na�ewe miskenning van die mens se verantwoordelikheid, asook van die feit dat die Skrif honderde opdragte gee - ook aan Christene. Heiligmaking kom vir die wedergeborene natuurlik, ja, maar nie outomaties nie.

~ Sekere groepe (ironies genoeg baie heiligmakingsbewus) verval in dieselfde eensydigheid, maar op 'n ander manier. Die groot probleem, s� hulle, waarom mense nie oorwinnend oor sonde leef nie, is dat hulle te hard probeer. Hulle pogings is vleeslik en wetties - en hulle kom as 't ware net daarmee in die pad van die Heilige Gees. Nee, word ges�, verlaat jou, in jou volslae onvermo�, geheel-en-al op die werk van die Gees. Maak 'n 'totale oorgawe', 'let go and let God' - en heerskappy oor die vlees sal volg.

Ook hierdie halwe waarheid loop, helaas, op ontnugtering uit. Wie die sondige natuur nie doelgerig 'doodmaak' nie (Rom 8:12-13 en Kol 3:5, OAV), sal nie oor die vlees heers nie. Laat ons nooit vergeet nie: die Christelike lewe is enduit 'n oorlog - met oorblywende sonde.

DIE NORM VAN HEILIGMAKING

‘ Sonder 'n norm, 'n maatstaf, sal ons najaging van heiligmaking in 'n koerslose willekeur verval. As ons dus oor die Bybelse norm besin, is die diepste Bybelse beginsel dat God self die maatstaf is. Eintlik is dit voor die hand liggend. In heiligmaking gaan dit immers om die herstel van die beeld van God in sondaars. Hierdie waarheid kom uitnemend na vore in die tipiese Bybelse formule: 'Wees heilig, want Ek is heilig' (Lev 11:44-45; 19:2; 1Pet 1:15-16; en ook Matt 5:48).

‘ 'n Uiters belangrike en balanserende waarheid moet egter nooit uit die oog verloor word nie: tussen God as God en mens as mens bestaan 'n wesensverskil. Dis die verskil tussen Skepper en skepsel, tussen die absolute Soewereine en die volkome afhanklike. Gelykvormigheid aan die beeld van God is dus nooit absoluut nie; dis altyd gekwalifiseerd. Trouens, in 'n sin is die ambisie om soos God te wees die dieptepunt van sonde. Presies hier l� immers die punt waarop Satan die mens verlei het (Gen 3:5).

‘ Daar is dus twee lewensbelangrike Bybelse waarhede wat in hierdie verband vasgehou moet word. Enersyds is die mens se hoogste roeping om soos God te wees (in een sin). Andersyds is die mens se gruwelikste sonde om soos God te probeer wees (in 'n ander sin). Nou is dit duidelik dat as God nie self aan die mens openbaar waarin ons aan Hom gelyk moet word nie, en as Hy dit nie afperk en definieer nie, is ons gedoem om allerlei Godslasterlike grense oor te steek.

Dit het Hy inderdaad gedoen - in Sy morele wet, oftewel die Tien Gebooie.

� Hierdie wet is dus uitdrukking van God se volmaakte karakter en lei ons op 'n weg in harmonie met Sy heiligheid. Maar terselfdertyd bewaar dit ons van die moeder van sondes, nl. om soos God te wil wees. Dit is waarom verwaarlosing van die Tien Gebooie klokslag lei tot arrogante gedrag wat op die gebied van God se soewereine prerogatiewe oortree.

‘ Die perfekte openbaring van God se beeld en Sy wil vir die mens, en van hoe die Tien Gebooie se uitlewing dus lyk, is in die persoon, lering en lewe van die Here Jesus Christus te vind (Joh 1:18; 14:9; Heb 1:3). In 'n lewe hier op aarde, in 'n liggaam soos ons s'n, is die heiligheid van God volmaak gedemonstreer. Duideliker kon God Sy wil vir die mens nie maak nie.

� As ons geroep word om Jesus te volg, l� diensbaarheid elke keer aan die hart daarvan (Matt 20:27-28; Mark 10:44-45; Joh 12:23-26; 13:15; 2Kor 8:8-9; Fil 2:3-8; 1Pet 2:21).

Die natuurlike mens se neiging is selfhandhawing, selfbevrediging, selfbevoordeling. Dis die 'opwaartse' pad wat God na die kroon wil steek, die sondige ambisie wat soos God wil wees. Daarenteen is daar egter die 'afwaartse' pad van selfverlo�ning - wat in 'n ander sin soos God wil wees. D�s die wil van God vir ons; d�s uitlewing van Sy morele wet (Gal 6:2).

� Die opsommende beginsel van die morele wet is selfverlo�nende liefde tot God en mens (Matt 22:36-40; Mark 12:28-31; Rom 13:10;1Jh 3:14-18).

Dis egter baie belangrik om raak te sien dat die Woord van God geen ruimte laat vir willekeur nie. Ek besluit dus nie maar self hoe, waar en wanneer my liefde tot uitdrukking sal kom nie. Nee, God se uitdruklike voorskrif is dat my liefde vir sowel Hom as my naaste te alle tye in 'tien kanale' sal vloei.

‘ Aangesien die morele wet dan uitdrukking van God se karakter is, l� dit voor die hand dat dit 'n ewige en onveranderlike re�l van geregtigheid is. Niks kan dus verder van die waarheid wees nie as die standpunt dat die Nuwe Testament die betekenis en relevansie van die Tien Gebooie opgehef het.

Natuurlik is die gelowige nie 'onder die wet' nie - bedoelende dat hy nie God se guns deur gehoorsaamheid daaraan moet of kan verdien nie. Maar as re�l van dankbaarheid en norm van heiligmaking, is die Tien Gebooie vir hom van die allergrootste belang.

� Hierdie voortgaande geldigheid en gesag van die morele wet word deur Christus in Matt 5:17-20 bevestig.

Wat kan duideliker wees as v.18: "Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is."

� Die Tien Gebooie is God se wil vir die mens in ekstrakvorm. Al die honderde morele voorskrifte wat dwarsdeur die Skrif, veral die Nuwe Testament voorkom, is in werklikheid ontvouings en verduidelikings daarvan.

NOG 'N PAAR HOEKPENNE

‘ 'n Heilige lewe het in die heel eerste instansie nie te doen met morele standaarde en uitnemende karaktertrekke nie. Waaroor dit ten diepste gaan, is afgesonderdheid vir en toewyding aan die Drie-enige God.

Dit gaan dus in die eerste instansie oor liefde vir Hom, oor enkelhartigheid, ywer, diensbaarheid, oorgawe en getrouheid. Dit gaan oor H�m - S� eer, S� Koninkryk, S� waarheidsevangelie, S� gemeente! 'n Heilige man (of vrou), is dus 'n man van ��n saak. Hy lewe voor die aangesig van God en in die lig van die ewigheid - want hy moet aan die Here self gaan verantwoording doen oor die rentmeesterskap van sy lewe. Sy een ambisie is verwoord in Matt 25:21 en 23: "Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!" Daarom is sy voortdurende gebed: 'Here, leer en verruim my steeds meer, sodat ek U so goed kan ken as wat dit vir 'n mens moontlik is; maak my al hoe meer aan die beeld van Christus gelyk; rus my toe om meer en meer vrug te dra tot U eer.'

Die ganse wese en lewe word deur heiligmaking geraak.

Al die fakulteite van die innerlike mens word verander: die verstand en oortuigings (Jer 31:33; Joh 6:45; Rom 12:1-2; Ef 1:18; 3:18; Fil 1:9-11; Kol 1:9-10; 1Pet 1:13); die wil (Eseg 36:25-27; Fil 2:13); die emosies (Gal 5:24); die gewete (Tit 1:15; Heb 9:14).

Onvermydelik kan die liggaam nie onaangeraak bly nie (Rom 6:12-13; 1Kor 6:15, 20; 1Tess 5:23). Dit is die instrument waardeur die innerlike mens homself in hierdie w�reld uitdruk. Daarbenewens is die mens 'n psigo-somatiese wese en sy innerlike gesteldheid moet mettertyd 'n fisieke invloed h� - hetsy direk of indirek.

Heiligmaking het 'n progressiewe karakter. Dit word deur die Skrif geleer (Rom 12:2; 2Kor 3:18; Ef 4: 11-16; Fil 1:9; 1Pet 2:2; 2Pet 3:18) en is algaande in ware gelowiges waarneembaar.

Heiligmaking sal nooit volmaaktheid in hierdie lewe bereik nie. Die Skrif en ervaring leer dat selfs die mees begenadigdes onder ons ver tekort skiet aan God se volmaakte standaarde (1Kon 8:46; Spr 20:9; Pred 7:20; Rom 7:13-26; Jak 3:2; 1Joh 1:8). Dis waarom daar na selfs 'n leeftyd van heiligmaking steeds 'n verdere dramatiese ingryping van God nodig is - die heerlikmaking - om my gereed te maak vir volmaakte gemeenskap met Hom, die Driemaal-heilige.

Toenemende sondebesef is een van die sekerste tekens van groei in heiligmaking. Dis hoe die Gees ons nederiger maak - en dring om dieper in Christus te skuil. En d�s geloof - wat God meer as enigiets behaag.

� Luister na twee van die mees uitstaande godsmanne van die verlede:

Jonathan Edwards: "When I look into my heart and take a view of its wickedness, it looks like an abyss infinitely deeper than Hell ... It is affecting to think how ignorant I was when a young Christian, of the bottomless depths of wickedness, pride, hypocrisy, and filth left in my heart."

John Newton, oor sy verwagtinge aan die begin van sy Christelike lewe: "But alas! these my golden expectations have been like South Sea dreams. I have lived hitherto a poor sinner, and I believe I shall die one ... I was ashamed of myself when I began to serve Him, I am more ashamed of myself now, and I expect to be most ashamed of myself when He comes to receive me to Himself. But oh! I rejoice in Him, that He is not ashamed of me!"


Antipas Herout word gepubliseer deur Antipas Lektuur, 'n bediening van die Antipas Baptiste Gemeente in die Vaaldriehoek, met Nico van der Walt as redakteur. Die doel is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die fundamentele God-gesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder.

Hierdie lewensbelangrike waarhede is kernagtig en uitnemend geformuleer in die groot Reformatoriese Belydenisskrifte en die wekroepe van die sestiende eeuse Reformasie:

Die Skrif Alleen, Genade Alleen, Christus Alleen, Geloof Alleen, Die Eer van God Alleen.


As u op ons poslys wil wees om gedrukte uitgawes van die

Herout gratis te ontvang, stuur u naam en posadres aan:

Antipas Herout, Posbus 263435, Drie Riviere, 1935

Tel: (016) 423 3639 Faks: (016) 454 0387

of

E-pos ons by : [email protected] en vra

om op ons adreslys begevoeg te word.


Antipas Lektuur is in die lewe geroep om die waarheidsevangelie in sowel Afrikaans as Engels so wyd en goedkoop moontlik te versprei. Besonderhede van ander studieboeke, traktate, geselekteerde boeke teen net meer as kosprys en oudiobande, kan van bogemelde adres verkry word.

Dit staan enigeen vry om die inhoud van hierdie Herout met of sonder erkenning te gebruik. Die skrywer het immers self baie hulp by talle ander gekry. Hy glo dat die

inhoud 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring is, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie.

Terug / Back