Is die Bybel genoeg?

Nico van der Walt

INLEIDING EN AANLEIDING

 Vir 'n dekade was ek sak en pak deel van die charismatiese beweging. Tydens die tagtigerjare. Weliswaar het my ongebreidelde entoesiasme reeds na omtrent twee jaar begin plek maak vir allerlei en toenemende bedenkinge. Hierdie bedenkinge, waarvan 'n hele paar mettertyd omgesit het in ontnugtering, het my uiteidelik in 'n doolhof van teologiese onsekerheid gelaat. En die paar sekerhede wat darem ontwikkel het, het my oortuig dat ek my in 'n stroming bevind wat alles behalwe gesond is. Hieraan wou ek iets doen.

 So is ek toe teen die einde van 1989 deel van 'n groepie manne wat vir 'n week vas en bid met die oog op die pad vorentoe. Soos dit maar in charismatiese kringe gaan, het die "openbaringsgawes" gevloei. Eintlik was ek lankal nie meer tuis in sulke situasies nie. Tog het ek die bietjie charismatiese vaardigheid en ywer wat ek nog oorgehad het, bymekaar geskraap en heelhartig meegedoen. Ek was immers 'n man in sy laaste loopgraaf. En gou-gou het 'n defnitiewe strategie begin uitkristaliseer. Elke dag het meer klarigheid gebring. Dit was eenvoudig merkwaardig hoe die profesieë, die uitleg van tale, die visioene en die "stemme" wat gehoor is, mekaar aangevul het.

 Januarie 1990 trek ek en my gesin toe 'n duisend myl. Februarie sê ek vir my vrou ek sien moeilikheid kom. En vanaf Maart, April beleef ons die vernederendste en pynlikste katastrofe van ons lewe. 'n Vernietigende jobservaring het ons oorval! Ons gaan uiteindelik die tweede helfte van die jaar in sonder werk, sonder heenkome, sonder waardigheid - maar mét God.

 Ses van die mees betekenisvolle en rigtinggewende maande van ons lewens volg, voordat die Here ons verder lei. Ek moes noodwendig deur die ABC van my geloof dink: wat glo ek regtig; wat is die absolutes van my oortuiging; wat presies is die ononderhandelbare ankerpunte van my teologie? Dit het 'n teologiese verskuiwing meegebring, 'n oortuigingskanteling, wat my hele lewe sou verander en waarvoor ek ewig dankbaar sal bly.

 Een saak wat onvermydelik op my agenda was, is die hele kwessie van die "openbaringsgawes". Vir die eerste maal het ek behoorlik besef dit gaan om meer as blote eksegese van die sogenaamde charismata-gedeeltes in die Bybel. Meer fundamentele teologiese issues is ter sake. Dit gaan om Skrifbeskouing!

 Ek het nooit oor die afsluiting van die kanon getwyfel nie; dat die Bybel God se gesagvolle spreke is en dat niks daarby gevoeg mag word nie. Of miskien moet ek sê ek het lippediens daaraan betoon. Watter "charismatic" wil die Bybel aanvul met 'n "Tweede Openbaring"? Maar oor hoe hierdie waarheid en die "openbaringsgawes" met mekaar te rym is, daaroor was ek totaal dof. Vir jare het ek geweet my teologiese onderrok hang op hierdie punt liederlik uit. My charismatiese hart het soms iets gemompel oor twee vlakke van gesag, want geság is waaroor dit eintlik gaan. Dis natuurlik 'n argument wat geen water hou nie. Praat God dan soms met minder gesag as ander kere, so asof Hy soms net 'n suggestie maak? Of as die gawes dan 'n mengsel is van menslike fantasie én Goddelike spreke, dan dra sekere elemente van daardie gawes tóg Goddelike gesag. En wat sou hierdie elemente anders wees as toevoeging tot die kanon? En waar tog, waar tog sou die geestelike reus te vinde wees wat kan onderskei tussen eg en fantasie?

 Dis wonderlik hoe die Here werk. Ek staan een dag met 'n vreemdeling en gesels in 'n boekwinkel. En hy maak hierdie stelling, net dit: "Die afsluiting van die kanon is één saak, maar wat van die genóégsaamheid daarvan?" Op pad huis toe het ek geweet die sleutel is in my hand. Nóóit sou ek by die kanon wou byvoeg nie, maar die genóégsaamheid daarvan het ek nog altyd misken! In elk geval het my charismatiese flankeerdery daarop neergekom. As die Bybel vir my genoeg was, waarom het ek my dan hoegenaamd gesteur aan "openbaringe" wat buite die Skrif om kom?

 Soos dit altyd gaan met so 'n waarheidsleutel, het dit mettertyd een na die ander Skrifuitspraak vir my oopgesluit. En my legkaart oor hierdie saak het al hoe meer begin prentjie aanneem.

 Die wydverspreide miskenning van die genoegsaamheid van die kanon lei tot 'n duisternis pastorale en Godonterende ellendes. Kom ek gee u een voorbeeld - 'n hartseer geval wat ek baie goed ken. Meer as tien jaar gelede is oor 'n sekere egpaar "geprofeteer" dat die Here hulle kragtig gaan gebruik. Tot nou toe het dit nog nie in vervulling gegaan nie; inteendeel. Almal wat hulle ken, kan sien dit sal ook nie. Maar niemand het moed om dit vir hulle te sê nie, want dit sal hulle laat verkrummel. En hulle sal jou in elk geval nie glo nie. Waarom? Hulle hou soos drenkelinge vas aan "Die Profesie" . Vir jare al skoei hulle hul lewens op 'n verwagting; is hulle gevangenes van 'n lugspieëling. En dit lei tot mislukking op mislukking. Tot so 'n mate is hulle in die woestyn en hulle selfrespek weggekalwe, dat hulle nog net één ding sien wat weer lewenssin kan bring: vervulling van "Die Profesie". So tuimel hulle net verder langs hierdie spiraal af! En om die tragiese tot die noodlottige te vererger; ontnugtering is besig om hulle geloof, wat eens op 'n tyd 'n lewenskragtige getuienis was, jaar na jaar laer te laat brand. Dis soos 'n kersvlam in 'n verseëlde bottel. Net die waarheid kan hulle vry maak, híérdie waarheid. As hulle dit maar wou omhels en hulle op die Vleesgeworde Woord werp, die Een sonder Wie die vernaamstes niks is nie en in Wie die geringstes alles is! Dít, nee Hý, is die Waarheid wat hulle sal vry maak; nooit "Die Profesie" nie.

 Hierdie mag 'n radikale illustrasie wees, maar ek dink nie ek oordryf as ek sê voorbeelde soos hierdie kan vermenigvuldig word nie. Hoeveel opregte, maar naïewe Christene is nie vandag met geestelike "wild goose chases" besig nie! Hoeveel van hulle is nie uitgelewer aan skurke wat hulle gewetenloos met "profesieë" manipuleer nie!

 Daarom wil ek u, geagte leser, baie graag oortuig dat die regsinnige kerk deur die eeue inderdaad reg is met die belydenis dat die Heilige Skrif genoegsaam is. En ek wil u graag help verstaan waarom dit so is en waarom dit so belangrik is. Laat my dus toe om 'n paar van die Skrifgedeeltes wat vir my oopgesluit is, met u te deel. Ek gaan dit in 'n bepaalde volgorde inryg, sodat u kan sien hoe God se Woord self getuig dat dit vir alle geslagte en situasies ál die lig bied wat nodig is om godvrugtig te lewe en salig te sterwe.

 Wat volg, sal egter net sin maak langs 'n oop Bybel. Slaan asseblief alle Skrifgedeeltes na waarna verwys word en lees dit aandagtig, desnoods in meer as een vertaling. Toets my lering met die gesindheid van die mense van Berea (Hd 17:10-11).

DIE LAMP OP DIE STAANDER

 Lukas 8:1-18 is vol betekenis vir ons onderwerp (vgl. ook Mt 13:1-23 en Mk 4:1-25). Hoewel alle vertalings hierdie gedeelte onderverdeel in 'n aantal los paragrawe, elkeen met sy eie opskrif, is hierdie bekende verse eintlik 'n eenheid. Dit gaan oor die Woord van God.

 Die gedeelte begin met 'n beskrywing van Jesus wat van dorp tot dorp die evangelie van die koninkryk verkondig. Skares mense luister voortdurend na Hom. As Hy dan die gelykenis van die saaier vertel, van 'n man wat die Woord van God saai (v.5-8; 11-15), is dit duidelik dat Hy in die eerste instansie van Homself praat.

 Die gelykenis van die lamp (v.16-18) is verdere kommentaar op Jesus se publieke predikingsbediening, besonderlik op die noodwendigheid daarvan. God se Lig vir die wêreld het in Sý persoon en prediking en werk gekom. Hoe sou Hy dan soos 'n askeet Homself kon afsonder, God se waarheidswoord vir Homself kon hou, dit "onder 'n bed wegsteek"?

 Vers 17 begin met "want", 'n redegewende voegwoord. Dit verduidelik dus die noodwendigheid van v.16, die noodwendigheid daarvan dat die lig op 'n staander gesit moet word sodat almal dit kan sien. Wat is die rede? God is besig met openbáring! Dinge wat tot nou toe verborge was, gaan geopenbaar word; trouens dit word reeds geopenbaar. Maar die vers sê méér (en dit is veral waarom ek hierdie verse bespreek): God openbaar nie net nie, Hy openbaar álles! Niks van wat Hy aan die mens wil openbaar, gaan langer geheim bly nie.

 Dat hierdie 'n gewigtige saak is, word in v.18 onderstreep. Jesus druk Sy dissipels op die hart om noukeurig na God se openbaring te luister, want die feit dat hulle nou "het", dui daarop dat hulle ook ontvangers van die res van God se nuwe lig gaan wees. Hierdie belofte geld nie vir alle mense nie, net vir diegene wat "het". Wat hét hulle? Hulle het "ore wat kan hoor" (v.8). Dit is 'n genadegawe van God (v.10) en stel hulle in staat om die verborgenhede, die geheimenisse van die koninkryk van God te ken. Vir hom wat hierdie genadegawe nie ontvang nie, bly die koninkrykswaarhede versluier. Later in die Nuwe Testament word meer aandag aan hierdie saak gegee. Sonder die verligtende werk van die Heilige Gees bly 'n mens geestelik blind (vgl. byvoorbeeld 1Kor 2:6-16).

 Jesus gebruik 'n baie betekenisvolle woord in v.10 (vgl. ook v.17): "verborgenheid" (NAV: "geheim" en later in die NT "geheimenis"). Die bepaalde Griekse woord, "musterion", word meer as twee dosyn keer in die Nuwe Testament gebruik. Dit het konsekwent 'n baie bepaalde betekenis. Dit dui op waarheid wat God geopenbaar het, waarheid waarvan geen mens eers sou gedroom het as Hy dit nie gedoen het nie. So word die woord dan 'n tegniese begrip wat dui op Nuwe Testamentiese openbaring.

 Jesus leer dus in hierdie verse, weliswaar kripties, soos dit Sy manier was met die gelykenisse, dat die oopbreek van 'n massa allerbelangrike openbaring op hande is. Hy leer trouens méér: dat God álles gaan openbaar - die héle waarheid. Hy gaan níks terughou van wat Hy vir die mens wil sê nie. Natuurlik gaan Hy nie álle waarheid openbaar nie; daar bly immers baie oor om te openbaar met en na Jesus se tweede koms. Maar álles wat nodig is vir hierdie bedeling, gaan nóú geopenbaar word! Só duiselingwekkend groots is die waarhede wat aan't kom is, dat 'n spesiale genadewerking van die Here in 'n mens nodig is voordat hy hoegenaamd iets daarvan kan begryp.

 Die kruis! Opstanding! Hemelvaart! Pinkster! Die Nuwe Testament!

BELOFTES IN DIE BOVERTREK

 Nou skuif ons van Galilea na 'n bovertrek in Jerusalem. Heelwat water het in die see geloop. Dis die aand voor Jesus se kruisiging.

 Algaande, soos hulle dit kon hanteer, het Jesus waarheid na waarheid vir Sy dissipels oopgebreek. Nou, in die wete dat Hy hulle gaan verlaat, is hulle sekerlik bekommerd, onder meer oor hoe hulle die wonderlike koninkryksgeheimenisse wat Hy vir hulle geleer het sal kan onthou. En van sóveel verstaan hulle nog niks nie!

 Maar vanaand, vooraand van Sy kruisiging, vertroos Jesus hulle met wonderlike beloftes. Die Heilige Gees gaan hulle op 'n ongekende wyse kom toerus vir hulle grootse taak (Jh 14:16 - 16:15). Jesus noem Hom keer op keer die "Gees van die wáárheid"(Jh 14:17; 15:26; 16:13). Hy sal hulle aan alles herinner wat Jesus gesê het (Jh 14:26); asook die toekomstige dinge aan hulle verkondig (Jh 16:13). In die héle waarheid gaan Hy hulle lei (Jh 16:13). En eintlik sal hierdie waarheid net oor Hom, Jesus, gaan (Jh 15:26). Só sal die Heilige Gees dan, deur die apostels, Jesus verheerlik - die Christus, God se Groot Profeet, Priester en Koning (Jh 15:26; 16:14).

DIE APOSTELS SE UNIEKE BEDIENING

 Na Pinkster gebeur dit presies so. Die apostels se prediking en geskrifte word die "héle waarheid" (1Kor 2:13; 1T2:13; Hb 2:3-4).

 Dit is belangrik om te begryp dat die belofte dat die Heilige Gees in die hele waarheid sou lei, in die eerste instansie in die apóstels se lewens vervul is. Húlle is deur die Heilige Gees geïnspireer (2Tm 3:16) om die waarhede van die Nuwe Testament te preek en neer te skryf vir volgende geslagte. Natuurlik is die belofte ook vir ál Jesus se dissipels, maar dan in 'n sekondêre sin: die Heilige Gees verlíg hulle om die waarhede van die Nuwe Testament te verstaan. Hy gee dus vir hulle ore wat kan hoor (1Kor 2:14-16; Ef 1:17-19; Kol 1:9-10; 1Jh 2: 20,27; 5:6-8).

 Onthou dat die apostels 'n baie spesifieke groepie manne was, deur Jesus self uitgesoek en geroep. Hulle moes oog- en oorgetuies van die grootse heilsgebeure word. Toe 'n opvolger vir Judas Iskariot aangewys is, moes hy spesifiek 'n oog- en oorgetuie wees van Jesus se hele bediening, maar veral van Sy opstanding (Hd 1:21-22). Dis hoekom Johannes sommer reg aan die begin die lesers van sy eerste brief herinner dat hy 'n oor- en ooggetuie is. Hulle moet weet hy is 'n ware apostel en dat sy brief dus geïnspireerde gesag dra (1Jh 1:1-4). Die apostelskap was inderdaad 'n unieke en daarom tydelik bediening. Die apostels het hulle roeping baie goed verstaan en geen geheim daarvan gemaak nie. Veral Paulus sê keer op keer sonder skroom dat hy instrument is van Nuwe Testamentiese openbaring (vgl. bv. Rm 16:25-26; 1Kor 2:7-10; Ef 3:2-9; Kol 1:25-27). Let op hoe konsekwent hy die woord "verborgenheid" (OAV) of "geheimenis" (NAV) gebruik. Hy het ook duidelik verstaan dat andere soos hy gebruik word. In Ef 3:5 praat hy van die "heilige apostels en profete".

 In Ef 2:19-22 maak Paulus 'n hoogs betekenisvolle stelling. Die gemeente is gebou op die fondament van die apostels en die profete. In Nuwe Testamentiese tye is die kerk gebou op hulle persone, bedieninge en die openbaring wat deur hulle gekom het. Al wat egter na hulle afsterwe oorbly, is die openbaring, nl. die Nuwe Testamentiese kanon. Die beeld beklemtoon die Heilige Skrif se onveranderlike permanensie en finale gesag vir die kerk van alle eeue.

 Die hoeksteen van die kerk, sê hy, is Jesus Christus. 'n Hoeksteen was in die ou tyd die heel eerste fondamentsteen wat gelê is. Dit het die ligging, hoogte en oriëntasie van die res van die fondament bepaal, en daarom van die hele gebou. Dit was dus die "hart" van die fondament. En presies só was dit ook: die apostoliese prediking is volledig Christo-sentries (1Kor 1:23, 30; 2:2; 3:11; Kol 1:27-28). Die Heilige Gees het inderdaad, soos in die bovertrek belowe is, deur die apostels van Christus getuig (Jh 15:26-27).

GOD SE OPENBARING KULMINEER IN JESUS CHRISTUS

 Nog 'n Skrifuitspraak is van die allergrootste belang vir ons onderwerp: Hb 1:1-4, veral vers 1. As die Hebreërskrywer sê dat God in die "laaste dae" deur Sy Seun gepraat het, wil hy nie sê dat God in pasafgelope tye vir 'n slag weer só gepraat het nie. Die uitdrukking "laaste dae" dui in die Nuwe Testament op die bedeling tussen die eerste en die wederkoms van Christus en wil beklemtoon dat dit die laaste tydvak voor die afronding van God se verlossingsplan is. Dit dra dus die idee van finaliteit. Hb 1:1-4 wil daarom beklemtoon dat God se spreke deur Sy Seun meteen ook Sy finále spreke tot die mens is.

 Jesus Christus is God se Groot Profeet, wat Sy finale openbaring aan mense kom gee het (Jh 7:16; 8:28; 12:49-50). Meer nog, ook in wat Hy was en gedoen het, was Hy openbarend besig (Kol 1:15,19; 2:9). Daarom kon Hy sê, "Wie My sien, sien die Vader" (Jh 14:9). En Jh 1:18 stel dit uitdruklik: "Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, díé het Hom bekend gemaak." Hy is dus die kulminering, die klimaks, die afronding van God se besondere openbaring aan die mens. Wat is daar hoër en wat is daar meer as Hy? Wie wíl, wie kán by Hom byvoeg!

DIE SLEUTELS VAN DIE KONINKRYK

 Ons het nou genoeg lig om 'n uitspraak van die Here Jesus te verstaan wat deur die eeue tot baie verwarring en kontrovers aanleiding gegee het. Ek praat van Mt 16:15-19.

"Wie sê júlle, is Ek?", vra Jesus vir Sy disspels. Simon, leier van die dissipels, antwoord namens hulle: "U is die Christus, die Seun van die lewende God!" Hierdie belydenis is die hart van Nuwe Testamentiese openbaring.

 Jesus bevestig dit dan as sulks (v.17). Die belydenis kom nie van die mens nie, maar van God.

 In v.18 gee Jesus vir Simon 'n nuwe naam, Petrus (Sefas in Aramees). Dit beteken 'rots'. Dus: Jy is rots en op hierdie rots gaan Ek My onvernietigbare gemeente bou. Wat of wie is die rots? Deur die eeue is meer as een antwoord hierop gegee, gewoonlik geforseerd en onbevredigend. Die antwoord is eintlik voor die hand liggend, onontkombaar: Petrus self is die rots! Dis tog presies wat Jesus sê. Maar, en hierdie kwalifikasie is wesensbelangrik, dit gaan oor Petrus as instrument en kanaal van Nuwe Testamentiese openbaring (Jesus maak Sy belofte aan Petrus júís n.a.v. v.17). Maar méér is hier ter sprake. Die belofte word aan Petrus gemaak in sy hoedanigheid as segsman en verteenwoordiger van die apostels. Déúr hom word die belofte dus ook indirek aan die res van die apostels gemaak. Sou Paulus dit nie later in Ef 2:20, soos ons gesien het, op al die apostels (en profete) van toepassing maak nie? Inderdaad sou hulle die fondament van die ware kerk deur die eeue word!

 Ons werk eintlik na v.19 toe. Petrus word steeds aangespreek as verteenwoordiger van die apostels (die soortgelyke uitspraak in Mt 18:18 is in die meervoud). Jesus gaan aan hulle die sleutels van die koninkryk van die hemele gee. En daarmee sal hulle toesluit (lett. "bind") en oopsluit (lett "ontbind"). Jesus gebruik hier Rabbiniese uitdrukkings vir 'verbied' en 'toelaat'.

 Die Grieks van hierdie vers bring nou 'n wonderlike insig. Soos in Mt 18:18, word ook hier "perfektum passiewe deelwoorde" gebruik [die perfektum dui op 'n voorafgaande handeling wat steeds van krag is as die handeling van die hoofwerkwoord plaasvind]. Dis moeilik in Afrikaans vertaalbaar, maar hier is my poging: "wat jy (julle) op die aarde toesluit, sal dít wees wat reeds vantevore in die hemel toegesluit is; en wat jy (julle) op die aarde oopsluit, sal dít wees wat reeds vantevore in die hemel oopgesluit is". Hulle sal dus nie maar sommer self besluit wat op die aarde verbode en toelaatbaar is nie. Hierdie prerogatief berus by die soewereine God en by Hom alleen. Maar die apostels sou die kanale word waardeur God Sy wil, dit wat verbode en toelaataar is, aan die mens bekend maak. Hulle sou dus deur die Heilige Gees geïnspireer word om die Nuwe Testamentiese voorskrifte neer te skryf.

 Hierdie verse in Matteus het teologiese implikasies wat beswaarlik oorskat kan word. Só fundamenteel is dit, dat die héél eerste woorde wat Jesus ooit met Simon praat, hierdie belofte embrionaal bevat: "Jy is Simon .... jy sal Sefas genoem word." (Jh 1:42). En let op hoe gretig is Johannes dat sy Griekssprekende lesers nie die punt mis nie. Hy verduidelik onmiddelik: "Sefas beteken dieselde as Petrus". Rots!

 As 'n naamsverandering ooit gewig gedra het, dan is dit hierdie een. Rots! Fondament! Kanon! Onbeweeglik! Betroubaar! Genoegsaam! En die kerk wat daarop bou, en net daarop, sal nooit oorweldig word nie, selfs nie deur die magte van die doderyk nie.

 'N PAAR SAMEVATTENDE OPMERKINGS

 1. Twee waarhede volg uit wat ons gesien het. Eerstens, die kanon is afgesluit! Geen verdere besondere openbaring van God moet in hierdie bedeling te wagte wees nie. En tweedens, die kanon is genoegsaam! Alles wat God wil hê ons moet weet en alles wat nodig is om Hom te behaag, is uiteindelik heeltemal oopgevou en finaal opgeteken - bykans tweeduisend jaar gelede. Aan hierdie twee innig verweefde waarhede moet die kerk, en daarom elke individuele Christen, ten alle koste vashou. Laat dit los, verwaarloos dit selfs net, en ons is uitgelewer aan willekeur en subjektiwisme. Dan is die kerk soos 'n skip sonder koers, kompas, roer en anker - op die see van 'n duisend menslike opinies en idees. In die akademiese wêreld kom dit tot uitdrukking in teologiese relativisme. In die wêreld van belewingsbelustheid kom dit tot uitdrukking in die talle "fads" en "gimmicks" wat soos golwe die kerk een na die ander teister. Ek onthou goed hoe 'n man wat deur baie gevolg word, eendag vir 'n klomp van ons gesê het: "Brothers, the key to church growth is to keep the expectancy level of the people high".

 2. Waarom is Christene so naïef vandag? Sonder dat die meeste dit besef, is die leerstuk oor die Heilige Skrif die mees brandende slagveld in die stryd tussen die ware en die valse kerk. Die Bybel word van alle kante aangeval. Een van die algemeenste dwalings is egter om 'n onderskeid te maak tussen die Bybel, eendersyds en God se spreke tot die mens, andersyds.

 Dit gebeur o.a. só: duisende soek nie meer die Here se leiding vir hulle lewens in die Bybel nie, maar daarbuite. In plaas van die Skrif in sy verbande te bestudeer, God se groot universele gedragsbeginsels te formuleer en die toepassing daarvan biddend uit te werk, soek hulle eerder antwoorde in 'n klomp "geestelike teekoppies". Dis "koringkorrels" en "vliese" en "Bybel-oopslaan" en "openbaringsgawes" en noem maar op. Sommige doen selfs kursusse om "die Here se stem te hoor". Hierdie dinge speel dan dikwels 'n groter rol in mense se lewens as die Bybel. Vir hulle is die Bybel nie genoegsaam nie.

 Om die Here se wil buite die Skrif om te soek, is miskenning van Sý manier om Sy wil aan ons bekend te maak, die manier wat Hy soewerein verorden het. Dit kom neer op minagting van Sy onuitspreeklik kosbare gawe aan ons, Sy Woord - waarsonder geen mens Hom en Sy wil sou kon ken nie. Is die beheptheid met buite-Bybelse openbaringe nie vergelykbaar met Saul se sonde by die heks van Endor nie? Is dit nie die rede waarom soveel van die "openbaringsgawes" meer aan bygelowige waarsêery herinner as aan iets anders nie?

 Dit is lewensbelangrik om vas te hou dat die Gees déúr die Woord en genademiddele werk, nie los daarvan nie.

 3. Gelowiges is uiteraard voortdurend afhanklik van die Heilige Gees se verligtende werk, sodat hulle die Skrif kan verstaan en weet hoe om dit in elke situasie toe te pas. Maar enige aanspraak wat méér as dit is, is byvoeging by die kanon.

 Hierdie is geen geringe saak nie. Die laaste boek in die Nuwe Testament, Openbaring, beskryf vooruit hoe Koning Jesus die geskiedenis triomferend tot afronding van God se raadsplan voer. En reg teen die einde is daar dan 'n gewigtige waarskuwing: God se oordele sal diegene tref wat by die boek byvoeg of daarvan wegneem (Op 22:18-19). Dit geld primêr die Openbaringboek, maar synde aan die einde van die sluitstuk van die kanon, moet dit ook aanvaar word as van toepassing op die hele kanon.

 4. Dit is moontlik om die genoegsaamheid van die Skrif te oorspan. Alles wat nodig is om te weet is nie altyd so eksplisiet daarin beskryf dat dit net vir lees en verstaan is nie. Dikwels is intensiewe studie, geheiligde denke en ervaringswysheid nodig om die Woord se waarhede "uit te myn". Soms moet die kerk dit gesamentlik doen; selfs oor geslagte heen. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die groot reformatoriese belydenisskrifte. 'n Hoë waardering vir historiese kontinuiteit, 'n respek vir en kennis van die geskiedenis, is daarom uiters belangrik vir die kerk (en individu) wat in waarheid en wysheid op die pad wil bly.

 5. Miskenning van die genoegsaamheid van die Bybel en 'n beheptheid met die subjektiewe en buite-Bybelse, lei noodwendig tot 'n verdere ellende. Verantwoordelike Bybelstudie word verwaarloos. Die Bybel word effektief gesien as 'n versameling van losstaande gedagtes wat die Heilige Gees op 'n ad hoc-basis gebruik om mense mee te lei, te bemoedig, te vermaan. Benewens die misleiding wat dit tot gevolg het, word kennis en onderskeidingsvermoë dus al hoe meer geërodeer. So word dan net al hoe verder teen 'n negatiewe spiraal afgetuimel.

 Hierdie is nie 'n denkbeeldige gevaar nie. Ek gee dikwels lering vir mense vanuit die hele denominasionele spektrum. Die omgekeerde verband tussen beklemtoning van die subjektiewe en buite-Bybelse, aan die een kant, en insig en belangstelling in die vaste spyse van die Woord, aan die ander kant, is onmiskenbaar. Praat byvoorbeeld oor die eerste helfte van Romeine of Efesiërs, en gou-gou spreek die blink of die dof van jou luisteraars se oë boekdele oor hulle kerklike agtergrond. Ek moet egter byvoeg dat ek ook al meermale gesien het hoe studente, in die Here se genade, na 'n week se stewige lering met verwondering besef dat hulle nog altyd hulle eersgeboortereg vir lensiesop verruil het.

 6. Soos maar altyd die geval, het ons hier wéér te doen met 'n onbetaalde rekening. Omdat predikers met 'n "suiwer Skrifbeskouing" al vir geslagte lank daardie einste Skrif preek asof hulle doodstyding bring, reken baie dat "lewe" eintlik buite daardie Skrif te vinde is. As die "regsinnige" Christene se dooilikheid jou versmoor, nadat jy nuwe lewe in Christus ontdek het, móét jy mos begin glo "die suiwer leer" bring dood. Dooie ortodoksie is 'n verskriklike siekte; of dit steek aan, of dit verdryf.

 Vir 'n nuwe Christen, beslis in ons eksistensialistiese samelewing, is lewe gelyk aan opwinding. En hoe meer "fads", hoe hoër die "expectancy level", hoe meer opwinding is daar. Die afgelope twintig jaar se kerklike grondverskuiwing was 'n historiese onvermydelikheid! Die kerkgeskiedenis is 'n slingergang tussen aksie en reaksie. Sal die pendulum ooit stilhang voordat Jesus terugkom?

 Nou is 'n nóg groter tragedie aan't gang. Proponente van gister wat "voor die aangesig van die Here" die belydenisskrifte onderteken het, staan vandag tou om die opwindingwa te beklim. "If you can't beat them, join them!" En op hierdie wa is daar nie plek vir die Bybel (in elk geval nie soos hy bedoel is om gepreek te word nie) en vir "doctrine" nie. Vermaak en die gedrags- en bestuurswetenskappe is die doepa van die dag.

 Die wat die Here vrees, kan nie langer swyg nie. Sien jy die vurk in die pad? Paaie loop hier uiteen.

 O, mag die Drie-enige God wat Homself so wonderlik en volledig aan ons geopenbaar het, weer vir ons magtige predikers gee wat Sy Woord preek, Sy genóégsame Woord, en niks anders nie. Skaamteloos, vreesloos, kompromieloos! Hartstogtelik!

 As jy wil bid, bid híérvoor.

DIE LAASTE WOORD

"Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk." (2Tm 3:14-17)

 Die genoegsame Bybel bevat álles wat nodig is - vir die wysheid wat tot saligheid lei (v.15); vir 'n godvrugtige bediening (v.16); vir 'n lewe van goeie werke wat God behaag (v.17).

"So sê die Here: Die hemel is My troon en die aarde die voetbank van My voete .... Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir My Woord."(Jes 66:1-2, OAV)

Terug