Antipas Preke No7

Lukas 18:9-14 : DIE GELYKENIS VAN DIE FARISEËR EN DIE TOLLENAAR

 

 INLEIDING

In hierdie gelykenis spreek die Here Jesus 'n kernwaarheid van die Christelike geloof aan. Hier lê die wesensverskil tussen die evangelie en al hierdie wêreld se godsdienste, insluitende Churchianity. Dit gaan oor die vraag: Waarop berus redding - menslike verdienste of Goddelike genade?

Eerstens iets oor die Fariseërs en die Tollenaars.

• Die Fariseërs was geëerd in die samelewing. Polities het hulle geweier om enige kompromieë met die Romeine aan te gaan. Moreel kon niemand 'n vinger na hulle wys nie.

• Die Tollenaars was verag in die samelewing. Polities was hulle as belastinggaarders medewerkers van die Romeine. Moreel het hulle hulself verryk deur meer belasting te in as nodig. En soos dit met oneerlike geld gaan, het dit tot allerlei sedelike uitwasse gelei.

DIE GELYKENIS (V.10-13)

Twee mans gaan bid by die tempel - 'n Fariseër en 'n Tollenaar. Maar dis al waarin hulle ooreenstem. Daar is ten minste 4 diepgaande verskille tussen hulle.

1. Hulle het uiteenlopende opinies oor hulleself.

Elkeen praat oor homself.

• Die Fariseër verwys 5 maal na homself ("Ek"). Elke keer is hy die onderwerp van die handeling. Dit gaan oor wat hý vir God doen (11-12).

• Die Tollenaar verwys ook na homself ("My") - maar as die voorwerp van die handeling. Dit gaan oor wat God vir hom moet doen.

Elkeen plaas homself in 'n eie, unieke kategorie.

• Die Fariseër sien homself as enig in sy soort, want hy is nie "soos ander mense" nie (11).

• Ook die Tollenaar beskou homself as uniek. Letterlik bid hy: "O God, wees my, dié sondaar, genadig." (Ons vertalings ignoreer die Griekse bepalende lidwoord, maar vgl. die NASB). Hy kruip dus nie tussen die skare sondaars weg, soos ons almal geneig is nie. Hy het vrede met andere se sonde. En dis die taal van ware verootmoediging.

- Mens sien dieselfde in Paulus, as hy homself die grootste sondaar van almal noem (1Tm 1:15-16).

2. Hulle het uiteenlopende gebedsgesindhede.

Die Fariseër is trots, hooghartig, selftevrede en vol van homself.

• Die Here Jesus lig 'n betekenisvolle stukkie detail uit. Hoewel die Fariseër God aanspreek, praat hy eintlik met homself (lett. 'na homself toe'). Hy bluf homself dus. Sy gebed mag indrukwekkend klink, maar by die hemel kom dit nie uit nie.

Die Tollenaar se lyftaal sê alles.

• Sy voete bly op 'n afstand staan (13). Dit dui op respek vir God en 'n geringskatting van homself - soos Moses by die brandende bos.

• Sy oë kyk in skaamte grond toe (13). Hy bid soos Esra: "My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog opgestapel, ons misdade staan hemelhoog." (9:6).

• Sy hande slaan wanhopig op sy bors as hy sy sonde uitkreun (13).

• Sy mond uiter woorde van diep berou en verootmoediging (13).

3. Hulle het uiteenlopende posisies voor God.

Die Fariseër is veroordeeld en verwerp; die Tollenaar geregverdig en aangeneem (14, OAV).

Dus nie net hulle huidige stand nie, maar ook hulle ewige bestemming is totaal uiteenlopend - soos die hemel en die hel.

4. Hulle is uiteenlopend in dit waarin hulle hul vertroue stel.

Die Fariseër vertrou op sy 3 belangrikste godsdienspligte: gebed, vas en uitdeling (12). Eintlik was hulle veel strenger as die Ou Testamentiese standaard. Die Wet vereis dat jy 2 maal per jaar vas; hulle doen dit 2 maal per week. Die Wet vereis 'n tiende van jou grond se opbrengs; hulle gee 'n tiende van alles wat hulle eet, koop en verkoop.

Hier het ons waarlik 'n vroom man! Hy is reg - hy is alles behalwe 'n dief, 'n bedrieër of 'n egbreker.

Ook die Tollenaar is reg: hy is dié sondaar by uitnemendheid. Noem 'n sonde, en dit hang in sy kas.

SAMEVATTING

Beide hierdie karakters is sondaars - en verdien God se ewige oordeel. Een is egter totaal onbewus daarvan - en erken en bely dus nie sy sonde nie. Die ander verkrummel onder sondebesef - en roep om God se genade. Dis die wesensverskil tussen hulle!

Hoe meer die Fariseër homself met ander vergelyk, hoe meer neem sy selfvertroue toe (9). Die Tollenaar, daarenteen, is so diep onder besef van sy eie verdorwenheid en afhanklikheid van God se genade, dat hy totaal van ander mense vergeet.

Die twee se idees oor die grond van God se regverdigverklaring verskil dus soos dag en nag. Die Fariseër reken dis eie meriete; die Tollenaar kan aan niks anders as God se genade dink nie.

Die Fariseër word nie veroordeel omdat hy vroom is nie, maar omdat hy op sy vroomheid staatmaak. Die Tollenaar word nie regverdig verklaar omdat hy 'n sondaar is nie, maar omdat hy in sy self-wanhoop die Here om genade aanroep.

Kyk hoe sluit die Here Jesus af (14): die Fariseër is verlore, maar die Tollenaar geregverdig. Waarom? Wie homself verhoog, sal verneder word; en wie homself verneder, sal verhoog word. Só het God besluit sal dit werk in die verlossing van mense!

TOEPASSING

1. Presies dieselfde lotsbepalende onderskeid is te sien in 2 fases van 'n bekende man se lewe: Saulus, die Fariseër, en Paulus, die Christen.

Fl 3 is baie insiggewend in hierdie verband. V.3 stel die onderskeid. V.4-6 skets dan Saulus die Fariseër - dit waarop hy voor sy bekering geroem en staatgemaak het. Daarteenoor (moenie v.7 se "maar" miskyk nie!) word Paulus die Christen in v.7-14 geteken. Let op hoe hy oor en oor van die Here Jesus Christus praat - en hoe totaal Christosentries v.10 is.

Wat die Apostel hier beskryf, vat Fl 1:21 só saam: "... om te lewe, is vir my Christus ...".

Die wesensverskil tussen Saulus en Paulus lê in 2 woorde: 'self', enersyds; 'Christus', andersyds.

2. In die Tollenaar sien ons die mees fundamentele merkteken van wedergeboorte.

Enigiets minder as volkome en hartgrondige wanhoop in jou eie verdienste, enersyds, en 'n ongekwalifiseerde werp van jouself op die genade van God, andersyds - bring die egtheid van jou geloof ernstig onder verdenking.

• Geestelike bedelaarskap (Mt 5:3, lett.) is en bly die drumpelvereiste vir toetrede tot die Koninkryk.

• Verder moet ons onthou: 'n ware Christen wás nie net soos die Tollenaar nie; hy blý in 'n sin so.

Een van die grootste gevare wat ons in die gesig staar, is om 'Christelike Fariseërs' te word. Jy was eenmaal gebroke; jy is lankal nie meer nie.

• Sondegebrokenheid en geloofsekerheid is nie wedersyds uitsluitend in 'n Christen se lewe nie. Trouens, sonder voortgaande gebrokenheid is jou sekuriteit waarskynlik nie ware sekerheid nie, maar voorbarigheid.

• Waar lê die sleutel? Ons moet God en Sy Wet steeds beter leer ken. En ons moet onsself beter ken. En dit sal ons dring om Christus beter te leer ken.

• Die vraag is dus: hoeveel sondebelydenis, selfmishaging, verlange na geregtigheid en verlustiging in Christus is daar in ons lewens?

Ons moet daarteen waak om mense te maklik 'na die Here toe te lei'. Voordat iemand nie verslae en wanhopig is oor sy eie godsdienstige pogings nie, is hy nog nie gereed vir die Koninkryk nie. Waarom nie? Christus is nog nie belangrik genoeg vir hom nie. 'n Drenkeling wat in stormsee nie met al sy krag aan die lewensboei vashou nie, word gou-gou daarvan losgeslaan en verdwyn onder die golwe.

• Talle evangelisasiekursusse en -tegnieke misluk op hierdie punt. En om 'n ander voor te sê in 'n gebed van oorgawe, moet bevraagteken word. Iemand wat nie self sy sonde kan opnoem en om genade kan pleit nie, is nog nie waar die Tollenaar was nie.

Goedkoop, mensgemaakte evangelisering doen onberekenbare skade - aan die eer van God, aan die welsyn van die kerk, aan die siele van mense.

Nee, ons moet die pad van verlossing duidelik vir soekers skets - maar hulle dan los om dit sélf met die driemaal-heilige God uit te worstel.

3. Staan jy in die Tollenaar se skoene?

Elke 'Christen' moet verstaan: godsdiens red nie!

Kinders moet weet: herkoms maak jou nie vir God aanvaarbaar nie!

En 'n soeker moet begryp: jy durf nie maar 'hoop vir die beste nie'. Daar is nie so iets soos 'genade vir die eerste maal' voor die regterstoel nie. Jy kry genade in hiérdie lewe; redding vind hiér plaas. Soos 'n testament, moet jou verbondsdokumente in orde wees as jy jou laaste asem uitblaas. Nóú is die tyd!

Jonathan Edwards het gesê: "Almost every natural man that hears of hell, flatters himself that he shall escape it." Maar die werklikheid is dat 'n mens die Koninkryk net in Tollenaarskoene kan binnestap!

Staan jy in sulke skoene? Ja? Kom dan - jy is reg vir die Koninkryk! Die blye dag van verlossing is net 'n halftree weg!

• Jes 55:1-3: "Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk. Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is. Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe. Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid."

Nico van der Walt

Terug