Eerste Liefde
Deel Drie (Slot)
Dawie Hyman
Leraar van die Grace Christian Church
Ons lees weer Open. 2:1�7. (Lees) Soos jy sal onthou, gaan hierdie gedeelte oor die hele idee om jou eerste liefde te verlaat. Dis presies wat die gemeente in Efese gedoen het. Daardie aanklag word in vers 4 teen hulle gel�: "Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het." In die vorige preke het ek aangetoon dat dit 'n besonder ernstige saak is as die Here Jesus Christus vir 'n gemeente s� dat hy sy eerste liefde verlaat het. Aan die hart van Christen-wees, moet ons verstaan, is daar nie net 'n klomp oortuigings en idees, 'n klomp konsepte nie. Aan die hart van Christen-wees is daar 'n onvoorwaardelike liefde, 'n gewillige en totale lojaliteit en toewyding aan 'n Persoon � nie aan 'n stel idees nie, maar aan 'n Persoon. En daardie Persoon is Jesus Christus. Christen-wees is nie 'n intellektuele oefening nie, dis nie slegs 'n oefening in dogmas nie. Dit is 'n liefdesverhouding met Jesus Christus. Dit is 'n verhouding met Jesus Christus en deur Jesus Christus met God. Dis hoekom ek glo dat jy nie kan s� dat die christelike geloof 'n religie is nie.
As jy na religie� kyk, dan is dit mense se pogings om by God uit te kom. Die christelike geloof gaan egter oor God wat by die mens uitkom deur Jesus Christus, deur daardie verhouding met Hom. Om 'n Christen te wees is om die persoon van Jesus Christus lief te h�. Hoe gaan jy 'n Christen anders definieer? Dis 'n persoon wat Jesus Christus liefhet, nie net sy leerstellings nie. Dis goed om sy leerstellings lief te h�, maar as jy dit alleen liefhet en nie die persoon Jesus Christus nie, is jy nie 'n Christen nie. Luister wat Alistair McGrath hieroor ges� het: "Aan die hart van die christelike geloof l� daar nie soseer 'n stel abstrakte idees nie, maar eerder 'n Persoon. Ons moet die versoeking weerstaan om te praat van Christenskap asof dit een of ander -isme is. Soos Marxisme, Darwinisme of Hegelianisme. Al hierdie is abstrakte stelsels wat losgeraak het van hul stigter en eenvoudig gereduseer is tot 'n stel leerstellings, maar in Jesus is die Boodskapper en die boodskap een en dieselfde. Jesus se boodskap dra gewig en status vanwe� wat ons Jesus erken om te wees." Verstaan jy wat hy s�? Hy s� 'n Christen is een wat die Boodskapper �n die boodskap aanneem. Jy sien, die ou wat in Darwinisme of Marxisme glo, glo nie in Darwin nie, hy glo in wat Darwin geleer het. Hy glo nie in Karl Marx nie, net in wat hy geleer het. Maar met die christelike geloof is dit nie die geval nie. Jy glo wat Christus geleer het �n jy glo in Christus. Jy vertrou in Hom as jou Saligmaker. Dis baie wyse woorde van ons vriend, mnr. McGrath. 'n Christen is een wat lojaal is aan Jesus Christus. As jy net lojaal is aan sy leringe, dan is jy nie 'n Cristen soos die Bybel dit definieer nie. Om 'n Christen te wees, beteken jy behoort aan jou Here, jy's onder sy heerskappy, jy's gewillig onderdanig aan Hom. Jou wil, verstand en jou emosies word onderdanig gestel aan sy instruksies. Onthou dit, geloof is nie net kopkennis of 'n emosie nie. Geloof is beslis kopkennis en emosies, maar die twee dinge alleen beteken niks. Geloof is wanneer jou kop glo, jou hart voel en jou wil b�ig vir wat God se Woord s�. Dan het jy die Here lief, want dan glo jy in Hom, in sy Persoon. Die aanklag wat hier teen die Efesi�rs gel� word, is dat hulle nie meer s� geglo het nie. Hulle eerste liefde het koud geraak, hulle het hulle eerste liefde verloor. Dit vang mens onkant, want die gemeente in Efese het in soveel opsigte tog goed gedoen. Hoekom het hulle hulle eerste liefde verloor? Wat het skeef geloop? Ek wil h� ons moet bietjie daaroor gesels. Dit staan nie eksplisiet in die teks nie, maar as mens bietjie daaroor dink kan jy duidelik sien hoekom die Efesi�rs hulle eerste liefde verloor het.
JAAG DIE DINGE VAN GOD NA, NIE GOD NIE
Daar was vier dinge wat met hulle skeef geloop het. Die eerste was dat hulle die dinge van God begin najaag het in plaas van die God van die dinge. Dit gebeur baie dat mense so betrokke raak in die dinge van God dat hulle net d�t begin doen. Dit is wat hulle die hele tyd besig hou en die God van die dinge word agterwe� gelaat. Hulle spandeer nie meer tyd op hulle knie� met hulle Here nie. Hulle is te besig. "Here, ek kan nie nou met U praat nie, ek is te besig met die kerk." 'n Mens sien dit met hierdie gemeente � ons sien hulle ongelooflike ywer. Kom ons gaan weer terug na vers 2 toe: "Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid" � let op die sterk woorde � "en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy di� op die proef gestel het wat s� dat hulle apostels is �" Hy s� weer in vers 3: "en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en jy ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie." Ons praat hier van 'n klomp Christene wat hard gewerk het. Die enigste probleem was, in daardie harde werk was hulle liefde vir Christus 'n slagoffer. Dis hartseer dat dit gebeur, maar jy kan dit maar neerskryf, dit gebeur ongelooflik baie. Veral met di� wat baie, baie hard werk. In daardie arbeid, soos hulle veg vir suiwer lering, vir 'n kerk wat die naam van Jesus Christus waardig is, word hulle liefde koud. Al hulle arbeid maak hulle harte koud.
Gebeur dit nie maar in huwelike ook nie? Ek dink almal weet van die vrou wat so besig is om die kinders te versorg, kos te maak en die huis netjies te hou. Sy's miskien so betrokke by die kerk en sy moet vir haar man sorg want die arme ou kan glad nie vir homself sorg nie. Sy moet sy klere vir hom stryk. Hy weet nie eers waar om die strykyster aan te sit nie. En in die proses van sorg en arbei, kwyn haar liefde vir hom � sy vergeet om lief te wees vir hom. Andersom gebeur dit natuurlik ook. Die man wat baie ure werk en vir sy werk begin lewe. Hy dink, maar ek moet vir my vrou en kinders sorg en ek moet vir my vrou darem daardie derde Mercedes kan koop. En wat gebeur? Aan die einde van die dag is hy so besig met al die arbeid dat sy liefde vir sy vrou kwyn. Dis dieselfde wat met Christene teenoor hulle God gebeur en dit is beslis wat met die Efesi�rs gebeur het. Hulle was soldate vir Christus wat so ywerig in die oorlog was dat hulle van die basis af weggedryf en kontak met hulle generaal verloor het. Hulle was soldate vir Christus wat gedros het. Dis wat gebeur het. So aktief, so energiek dat hulle skoon vergeet het om die belangrikste ding te doen en dis om die Here Jesus Christus te aanbid en om God deur Hom te aanbid. Dis wat hulle gedoen het. Hulle het die dinge van God nagejaag i.p.v. die God van die dinge.
VERDRA SONDE
Hulle het in die tweede plek sonde begin verdra. Mens kan dit duidelik sien as jy vers 5 lees. Dit s�: "Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het en �" � doen wat? � "bekeer jou". Gaan jy jouself bekeer as jy nie sonde gedoen het nie? Dit is duidelik dat hulle sonde begin verdra het. Dis weereens iets wat ons verstaan. Ons almal ken en weet van daardie man wat altyd bekend gestaan het as die groot godsman en dan in een of ander sonde verval. Miskien het hy met sy sekretaresse weggeloop! Ons weet dit gebeur. Ons weet van mense wat so bekend is dat hulle vir suiwer lering staan en dan, eendag hoor jy: "Weet jy wat, hy't sy vrou geskei." Dit gebeur met Christene. Dit gebeur natuurlik ook met mense wat dink hulle is Christene. Ek kan julle net s�, ek weet dit uit my eie lewe. As 'n mens hard vir die Here werk beteken dit nie noodwendig dat jy vreeslik heilig is net omdat jy hard vir Hom werk nie. Jy kan jou vingers stompies werk vir God. Jy kan boeke by die dosyne skryf om vals lering te beveg en gesonde lering te verdedig en jy kan in daardie proses nog steeds vind dat jy van jou Here af wegdryf. Jy kan vind dat die sonde wat altyd in jou lewe is, so 'n oorheersende saak begin word dat jy vergeet om God lief te h� en jy jou sonde begin liefh�. Dis hartseer om dit te sien.
Net hierdie week moes ek met 'n man werk wat sonde in sy lewe toegelaat het. Dit het sy lewe totaal en al verwoes. Hy het begin lieg soos 'n tandetrekker. Hy het binne 'n kwessie van 'n paar weke in 'n groot gemors beland omdat hy sonde begin liefkry het i.p.v. om sy Here lief te h�. Die Bybel waarsku ons hierteen. Heb. 3:12 s�: "Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle 'n bose en 'n ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie." Die vers skok my elke keer as ek hom lees, want hy s�: "Sorg daarvoor, broeders." Hy praat met Christene en hy s� vir hulle: oppas dat daar nie miskien in een van julle 'n bose en 'n ongelowige hart is nie. Skok dit jou nie? Dit is nie woorde wat jy verwag om van Christene te hoor nie. Dan gaan hy aan en s�: "Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie." Hoe kan dit gebeur dat iemand wat 'n broeder genoem word, iemand wat lyk of hy 'n Christen is, 'n bose en ongelowige hart teenoor God kan h�? Heb. 3:12 s� dis omdat hy sonde in sy lewe toelaat en daardie sonde verhard sy hart tot die punt dat sy hart afvallig word. So 'n persoon was uit die aard van die saak nooit regtig gered nie. Daar was miskien 'n klomp emosies, maar hy is nie waarlik deur die Here gered nie, anders sou dit nooit gebeur het nie. Maar op 'n suiwer menslike vlak moet elkeen van ons oppas dat ons nie in sonde verstrengel raak nie. Die gevaar daarvan is ontsaglik groot, soos Heb. 3:12 dit stel.
WANGEBRUIK VAN GENADEMIDDELE
Dan was daar 'n derde ding wat die gemeente in Efese gedoen het. Hulle het die genademiddele van God wangebruik. Mens wonder hoe dit kon gebeur dat hierdie pragtige gemeente hulle eerste liefde verloor het? Paulus het drie jaar en Johannes verskeie jare daar spandeer. Soveel is in hierdie gemeente bel�. Timoteus was daar. Hoe kon dit gebeur dat hulle wat so 'n wonderlike geskiedenis van kerklewe gehad het die pad so byster kon raak? Hoekom het hulle sonde begin toelaat, dit begin verdra? Hoekom het hulle opgehou om vir Christus lief te wees? Wel, dis miskien so eenvoudig soos dit: hulle het opgehou om te bid. Of hulle het opgehou om hulle Bybel te bestudeer. Hulle het waarskynlik begin s�: Ag, ons verstaan alles van God se Woord, ons het alles uitgewerk. Jy kry amper die idee (as jy in vers 2 sien hoe hard hulle die sg. apostels beveg het en hulle leuenaars bevind het en hoe hulle slegte mense nie kon verdra nie) dat hierdie 'n kerk is wat hulle teologiese idees agtermekaar gehad het. Waarskynlik het hulle in die proses begin s�: "Ag, ons hoef nie meer na die Bybel en sy leerstukke te kyk nie, ons verstaan dit alles." Hulle het God se genademiddele begin afskeep en, soos jy weet, is die Bybel en gebed van die mees basiese genademiddele wat die Here vir ons gee. Ek het in my bediening gevind dat Christene wat sukkel gewoonlik Christene is wat nie die Bybel bestudeer nie. As ek vir die meeste mense wat met 'n probleem na my toe kom vra hoe gereeld hulle hulle Bybel lees, s� hulle: "Nee, ek lees hom glad nie gereeld nie." As ek vra of hulle bid: "Ag, baie min, net as ek in die moeilikheid is." Ons ken daardie soort Christene.
As jy die genademiddele van God so afskeep "then you're setting yourself up", soos die Engelse s�. Jy grawe vir jouself 'n gat. Dink bietjie so daaraan: as jy sou besluit om die Comrades te gaan hardloop, is dit miskien 'n baie mooi idee. Maar jy kan so toegewyd en vasbeslote wees soos wat jy wil, as jy nie van die waterpunte wat hulle vir jou langs die pad gee, gebruik maak nie, sal jy nie die wedloop voltooi nie. Jy sal sommer gou-gou platval van dehidrasie. Jy sal op daardie oomblik soos 'n opgewarmde dooie wees. Jy moet die "genademiddele" wat hulle vir jou langs die pad gee, gebruik as jy die wedloop wil voltooi. Ons moet verstaan dat dit deur die Skrif en deur gebed is dat die Here se genade na ons toe vloei. Hy het vir ons sy Woord gegee en dit is deur die bestudering van die Woord en deur tyd op ons knie� met ons Here te spandeer dat ons die genade wat ons s'n is, ontvang. As jy nie eet nie, gaan jy dood. Netso, as jy nie jou Bybel lees en geestelike kos inneem nie. As jy nie voor die Here is in gebed en Hom aanbid en verheerlik en jou versoeke na Hom bring sodat Hy dit vir jou kan antwoord en jy kan sien dat Hy getrou is nie, dan sit jy baie gou in 'n verknorsing. Luister na 1 Pet. 2:1: "L� dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei, as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is." Het jy al gesien hoe 'n klein babatjie na melk smag? Hy sit 'n keel op wat Pavarotti soos 'n pieperige klein muisie laat klink. As 'n babatjie kos wil h�, dan weet jy hy wil kos h�. En hy wil dit al gister gehad het. Dis soos dit is. 1 Pet. 2 s� smag so na die Woord van God � die onvervalste melk van die Woord. Daarmee gaan jy, Christen, groei, gaan jy opgebou word. Wat gaan gebeur as jy dit nie doen nie? Wie weet, jy gaan begin om sonde in jou lewe toe te laat, want die Woord is nie meer daar om jou te wys waar jy sondig nie. Jy gaan begin om jou eie idees oor die lewe te vorm. En jy gaan begin doen wat die Woord verbied en dit probeer regverdig en voor jy jou o� uitvee sal jy nie meer die Here liefh� soos jy Hom eers liefgehad het nie.
VALSE BEKERINGS
Daar is 'n verdere ding wat met hierdie gemeente gebeur het en dit is valse bekerings. Dit is natuurlik 'n groot rede hoekom mense nie meer hulle eerste liefde het nie. Dis omdat hulle dit nooit gehad het nie. Al wat daar aan die begin was, was hierdie vreeslike emosionele oplewing, hierdie emosionele ervaring. Toe dit uitgedien geraak het, toe's daar ook nie meer liefde oor nie. Valse bekering is 'n groot bron van hierdie probleem. Dit was sekerlik die geval gewees met sommige mense in die gemeente in Efese.
In Hand. 20:29 is Paulus op die punt om op 'n skip te klim en Jerusalem toe te gaan. Hy weet hy gaan die Efesi�rs nooit weer sien nie en voor hy totsiens s�, kry hy al die ouderlinge bymekaar en gee hy 'n laaste opdrag aan hulle. Hy s�, baie jare voor hierdie brief geskryf is, vir die ouderlinge van die gemeente in Efese: "Want ek weet dit, dat n� my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan." Dit beteken dat daar mense uit hulle midde sou opstaan en die kerk begin ondermyn. "Wrede wolwe" noem hy hulle. 'n Paar jaar later skryf Paulus in 1 Tim. 1:19 aan Timoteus, die predikant in Efese, van twee manne, Himeneus en Aleksander wie se geloof skipbreuk gely het omdat hulle hulle gewete onderdruk het. Skielik besef jy dan dat wat hy in Hand. 20:29 ges� het, wel gebeur het. Hierdie mans moes uit die kerk gesit word. Hulle was waarskynlik ouderlinge gewees, want in dieselfde boek gee Paulus vir Timoteus opdrag oor kwalifikasies vir die kies van ouderlinge. En in Hand. 20:29 is dit duidelik dat daar vantevore ouderlinge was, want Paulus het juis met hulle gepraat. Himeneus en Aleksander was dus waarskynlik ouderlinge gewees wat wolwe was en begin het om valse leerstellings te versprei. Hulle was nie waarlik gelowiges gewees nie en daar moet dus nou nuwe ouderlinge aangestel word.
Hierdie is 'n besliste moontlikheid in enige gemeente, ook in joune, dat sommige mense nie waarlik kinders van die Here is nie. Dis 'n sidderende gedagte om te dink dat ons land se kerke waarskynlik stampvol mense is wat heeltemal oortuig is dat hulle gelowiges is terwyl hulle dit nie is nie. As jy met hulle praat, dan besef jy gou dat hulle nie op Christus vir redding vertrou nie. Hulle vertrou op iets anders en daarom is hulle nie gereddenes nie. Maak nie saak met wie ek praat nie, of dit 'n ongelowige of 'n gelowige is of iemand wat dink hy's 'n gelowige (die meeste mense daarbuite) as jy vir hulle sou vra: s� nou jy gaan vandag dood en jy gaan hemel toe en s� nou maar die Here sal vir jou vra hoekom Hy jou in sy hemel moet toelaat � Hy sal dit nie vra nie, maar s� nou maar Hy vra dit, wat sal jy Hom antwoord? Meeste s�: "Ag, ek het probeer om kerk toe te gaan en om goed te doen. Ek was darem 'n goeie mens. Ek het my kinders goed grootgemaak, ek het hulle sondagskool toe gevat, ens. Hulle besef nie dat dit hulle nie sal red nie. Niks wat jy doen sal God be�nddruk nie. Jy kan jouself nie red nie. En tog lewe ons in 'n tyd en 'n land wat gevul is met mense wat so dink. En ek het geen illusies dat daar selfs in my gemeente mense is wat so dink nie.
Valse bekering is 'n rede hoekom party mense nie die Here Jesus liefhet nie, want hulle kan Hom nie liefh� nie. Hulle het Hom nooit liefgehad nie. Watter groot probleem is emosionele bekerings nie vandag nie? Ons het 'n klomp kerke in ons land wat emosionele bekerings preek. Hulle wil mense kry om daardie "besluit vir Jesus" te neem. Hulle sal doen wat hulle moet om emosies te manipuleer, om iemand te kry om op te staan en te s�: "Ek sal Jesus nou in my lewe in nooi." En dis net 'n groot emosionele saak en na 'n week of twee gaan die emosies weg en hulle lewe gaan maar aan soos voorheen. Daar's geen verkondiging van 'n sondebesef en van die heiligheid van God nie. Die Bybel s� die evangelie is om te besef: jy is sondig, God is heilig en jy kan God op geen manier be�ndruk nie. Jy't 'n probleem en die probleem word deur God in Christus opgelos wanneer Hy Christus as die brug tussen ellendige mense en die heilige God gee. Dis die evangelie, maar dit word nie gepreek nie. En as gevolg daarvan is daar 'n klomp mense wat dink hulle is Christene en dit nie is nie. En dan kyk jy na hulle lewens en sien dat hulle nie regtig die Here liefhet nie. Hulle lewe soos hulle lus is.
REGSTELLING
Nadat ons dit alles ges� het, wat gaan ons hieraan doen? As jy besef dat jou liefde vir Christus nie meer daar is nie, as jy jou eerste liefde verloor het, hoe word so 'n hart genees? Ons Skrifgedeelte gee vir ons die antwoord hierop. Die regstelling van hierdie pobleem word vir ons in vers 5 gegee: "Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke." Daar's drie dinge wat hulle en enige persoon wat besef dat hy sy eerste liefde verlaat het, moet doen. Om die waarheid te s�, enige persoon wat in die Here wil groei, sal hierdie drie dinge moet doen. Daar's sekerlik dinge in jou lewe wat jy wil verander, sondes wat jy weet nie reg is nie. Wil jy deur God vernuwe word? Wat nodig is, is die drie B's van radikale hernuwing. Die eerste ding wat jy moet doen is: besef jou sonde. Dit is die eerste B. Dit klink so eenvoudig, maar dit is ook die grootste struikelblok, want die natuurlike neiging van die mens is om nie sy sonde te sien nie. Mens wil nie jou sonde sien nie, jy hou nie daarvan nie, want dit s� jy's nie so goed soos wat jy dink nie. Jy's nie so intelligent of so heilig soos wat jy dink nie. Jou sonde maak jou ongemaklik, maar as jy nie jou probleem sien nie, kan jy hom nie oplos nie. Jy moet eers sien dat jy sonde het, dat jy sonder liefde vir Christus is. Jy moet sien dat jy nie meer jou eerste Liefde liefhet soos jy Hom eens gehad het nie, anders gaan jy die probleem nie eers aanspreek nie, want wat jou betref is daar nie 'n probleem nie. Ek hou van die Engelse spreekwoord wat s�: "If it works, don't fix it." As jy nie sien dat daar 'n probleem is nie, gaan jy dit nie oplos nie. Dis wat hier gebeur het. Die Efesi�rs het duidelik nie besef dat hulle besig was om te sondig nie. Vandaar die brief van Jesus Christus se hand af, deur Johannes, aan hulle. Die brief bewys dat hulle nie besef het dat hulle gesondig het nie.
BESEF JOU SONDE
Die eerste ding wat moet gebeur is dat hulle tot sondebesef moet kom. Dis waaroor verse 1�4 gaan. Dan word hierdie sondebesef tot 'n klimaks gebring in vers 5 wanneer Jesus Christus vir hulle s�: "Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het." Hy s� vir hulle dat hulle Hom nie meer liefhet nie. Onthou waarvandaan julle uitgeval het, onthou die hoogte wat julle beklee het toe julle by My was. Onthou die wonder en die prag van die tyd toe julle My liefgehad het. Onthou dit en kyk nou waar jy nou is. Kom tot sondebesef, dis wat Hy s�. Onthou die skoonheid, die reinheid, die vreugde, die grootheid daarvan om God lief te h�. Onthou die hoogte waar jy was en besef tot watter diepte jy geval het, nou dat jy My nie meer liefhet nie, ten spyte van al jou harde arbeid en al jou suiwer lering. Besef jy het gesondig.
Dis vir alle mense moeilik om dit te sien, want trots, eiesinnigheid en liefde vir sonde laat mense aan hulle eie sonde vaskleef. Ons is almal geneig om ontkennende wesens te wees wanneer dit by sonde kom. Ons is almal geneig om te s�: Ek, sondig? Ek in sonde leef? Nooit! Maar kyk na my buurman, jy sal nie kan glo wat jy daar sien nie! Somtyds moet sommige mense eers soos die verlore seun met die reuk van varkmis in die lug wakker word voor hulle tot sondebesef kom. Dit is waar die Woord so 'n belangrike rol speel om vir jou te wys waar jy sondig, dat jy daardie besef in jou hart kan vind. Miskien moet jy vandag besef, ja, ek het my eerste liefde verlaat, dit is nie soos dit was nie. Of miskien is daar 'n ander sonde, ek weet nie, ek ken nie julle harte nie. Onthou die hoogte vanwaar jy geval het en sien hoe laag jy nou is.
BEKEER JOU
Goed, nou't jy jou sonde besef, wat dan? Die tweede B is: bekeer jou van jou sonde. In vers 5 die tweede sin staan dit duidelik: "� bekeer jou". Dis net 'n kort sinnetjie, maar wat beteken dit? Dit beteken om weg te draai van jou sonde, om te breek daarmee, dit te verlo�n. Dis nie soos die ou wat ges� het: ek het my so bekeer van daardie sonde, ek het 'n 360� draai gemaak, weg daarvan af. Hy't net eenvoudig in die rondte gedraai � en is dus weer terug by die sonde! Wat is bekering? Dit is om te breek met wat verkeerd is. Ek sien dit, dis verkeerd, ek breek daarmee. Dit is om berou te h� oor wat jy gedoen het, innig en diep jammer te wees. Dis 'n belydenis van wat jy verkeerd gedoen het: "Here, vergewe my", maar dis ook 'n aksie. Dis nie net in jou hart nie, dis 'n aksie, 'n afswering, 'n wegdraai van die sonde. Dis emosioneel �n dis in jou wil.
Natuurlik, elke een van julle wat gelowiges is se geestelike lewe het met daardie eerste bekering begin, met jou wedergeboorte. En jou heiligmaking bestaan uit 'n reeks bekerings, berou oor sonde, 'n wegdraai van sonde. Dit kan nie anders as om feitlik daagliks te wees nie, feitlik uurliks. Bekering is nie soos die ou wat geld steel by sy baas en dan in die aand vir die Here s� hy is jammer nie. Maar dan, die volgende dag steel hy maar weer en die aand s� hy weer hy is jammer. Dis vir hom soos 'n versekeringspolis. Ek kan maar net vir die Here s� ek is jammer, dan is ek mos vergewe en dan is alles weer reg! Dis nie bekering nie, moenie onder daardie illusie verkeer nie. Ek weet van 'n baie hartseer geval van 'n predikant wat so gedink het. Hy het 'n buite-egtelike verhouding gehad en toe dit uitgevind is, word die vraag aan hom gevra: "Hoe kon jy Sondag na Sondag op die preekstoel gaan en vir mense preek terwyl jy in totale sonde gelewe het?" En sy antwoord was: "Ek het net elke Sondagoggend vir die Here ges� ek is jammer. Dan's alles mos reg". Daardie man is die spoor totaal byster! "Bekeer jou van jou sonde" beteken jy breek daarmee, wat dit ookal vra. Party mense moet televisiestelle uit hulle huise uitgooi, party mense moet van werk verander en ander moet hulle roete na die werk toe verander. Ek weet nie wat jy moet verander nie, maar ek dink jy weet. Jy moet alle bande met daardie sonde breek. Jy moet dit verlo�n, dis bekering. Jy moet na mense toe gaan wat jy seergemaak het en vir hulle s� jy is jammer. Vra hulle om jou te vergewe. Jy moet doen wat jy moet doen.
BEWEEG IN DIE TEENOORSGESTELDE RIGTING
Dan die derde B. Na jy jou bekeer het, is dit mos die einde. Nou't jy mos jouself bekeer, alles is mos nou reg. Hierdie stap is een wat mense omtrent altyd vergeet of nie van weet nie, die derde B: beweeg in die teenoorgestelde rigting. Bekeer jou van sonde, dit beteken draai weg daarvan. Is dit al? Nou staan jy maar net daar en die sonde l� agter jou. Nee, slaan 'n koers in die teenoorgestelde rigting in � na jou belydenis, berou, bekering en jou wegdraai van die sonde af. Wanneer jy wegdraai van sonde is daar 'n vakuum in jou lewe. Die sonde was daar en hy't tyd, ruimte en energie en selfs geld na hom toe getrek en opgeneem. Nou's daar 'n vakuum in die plek van die sonde. Die sonde waarvan jy weggedraai het, moet nou vervang word met die godvrugtige alternatief, met die teenoorgestelde van die sonde. Die gemeente in Efese het hierdie beginsel baie goed verstaan. Ek is seker die Heilige Gees het hulle hier eintlik net 'n baie stewige raps oor hulle kneukels gegee, want toe hulle hierdie woorde in vers 5 lees, moes hulle onmiddellik gedink het aan die brief wat Paulus vir hulle geskryf het. 'n Hele paar jaar vantevore, in die Efesi�r-brief is die Efesi�rs juis hierdie beginsel geleer. Om te besef dat hulle sondig is, om hulle te bekeer van hulle sonde en dan die sonde met die godvrugtige alternatief te vervang.
In Ef. 4:22�24 s� Paulus: "dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet afl� wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan, en dat julle vernuut moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid." Dit is ho� Afrikaans daardie, kom ek s� vir julle wat dit beteken. Dit beteken: julle het in sonde gelewe, haal dit af, trek dit uit, l� dit neer. En wat doen jy dan? Dan beklee jy jou met die nuwe mens, trek dit aan, vers 24. Dis nie net genoeg om sonde af te l� nie, jy moet iets in die plek daarvan sit. In die volgende verse illustreer hy vir hulle wat hy bedoel: "Daarom, l� die leuen af en spreek die waarheid," die godvrugtige alternatief. Kyk verder na vers 28: "Laat die een wat steel, nie meer steel nie". Die meeste mense sal dink dis goed genoeg as mens net ophou steel. Dan's alles mos nou reg, maar hy s� hier: Hou op steel en doen iets in die plek daarvan: "� maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan h� om mee te deel aan (die) een wat gebrek het." Iemand wat steel vat van iemand anders om homself te verryk en wat hy nou s� is: moenie jou hande gebruik om te vat wat nie aan jou behoort nie, maar werk sodat jy iets vir iemand anders kan gee. Dis net mooi die teenoorgestelde. In vers 29 gaan dit oor spraak. "Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net 'n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die een wat dit hoor." In Grieks verwys "vuil woorde" na woorde wat afbreek. Moet dus nie woorde gebruik wat afbreek nie, maar vervang dit met woorde wat opbou. Weereens, die godvrugtige alternatief, die teenoorgestelde.
Bekeer jou van jou sonde, nadat jy dit besef het en beweeg in die teenoorgestelde rigting, doen die godvrugtige alternatief. 'n Voorbeeld: 'n persoon wat sy humeur verloor sal moet leer om onselfsugtige dade aan mense te doen. Wat baie keer met so 'n persoon gebeur is dat hy besef dit is sonde en dan hou hy net op daarmee, of hy probeer ophou. Hy los nie regtig sy probleem op nie, want in die plek van die humeur kom daar 'n ander sonde. Dis hoekom mens sal vind dat party mense wat 'n geweldige humeur het en miskien besef dis verkeerd, vreeslik koud en afsydig en teruggetrokke word. Omdat hy nou moet ophou om sy humeur te verloor, s� hy niks. Hy is eintlik keelvol vir die w�reld, dan kry hy stilstuipe. Jy moet die sonde met die godvrugtige alternatief vervang, anders is daar 'n vakuum en dit gaan met dieselfde sonde of met 'n ander een gevul word.
Wat doen mens as jy jou eerste liefde verlaat het, hoe vervang jy daardie tipe sonde? Wel, ons teks s� vir ons wat mens moet doen. Daar staan: "� bekeer jou en doen die eerste werke." Dis soos jy jou eerste liefde weer terugwin. Die teenoorgestelde van jou eerste liefde te verlaat is om die eerste werke te doen. Wat bedoel hy daarmee? Julle moet onthou dat hierdie 'n ongelooflik aktiewe gemeente was. Hulle was baie baie aktief, hullle het goeie werke gedoen. Die probleem was nie die intensiteit van hulle werke of iets soos luiheid nie. Die probleem was nie w�t hulle gedoen het nie, maar h�� hulle dit gedoen het. Hulle het nie die werke gedoen met die motivering wat hulle eers gehad het nie. Hulle harte was nie meer gevul met liefde en aanbidding terwyl hulle vir God gearbei het nie. Die ingesteldheid van hulle harte was nie meer reg nie. Hulle het valse lering beveg en alles gedoen, maar hulle harte was nie daarin gewees nie. Hulle het dit nie meer gedoen as iets wat hulle vir die Here gee as 'n lofoffer, as 'n offer van aanbidding nie, dit was maar net iets wat hulle gedoen het. En die godvrugtige alternatief is om te begin om weer jou lewe aan jou God vas te maak, om weer jou hart met liefde vir die Here te vul. Dit begin met gebed en Skriflesing, met ernstige Bybelstudie. Dit begin by betrokke raak by die kerk as jy nie betrokke was nie. Fokus op die Here. Ken julle die gebed wat elke Christen moet bid: "Here, ek is lief vir U, ek is verdwaal in my liefde vir U, ek is meegevoer daardeur"? Dit is wat die Christen moet doen, sodat sy hart gevul bly met liefde vir God. Op elke liewe manier moet hy sy liefde vir God bely. D�t moet hom dan in sy dienswerk dryf. D�t was die eerste werke. Ja, as jy 'n Christen is sal jy onthou hoe jy die Here aanvanklik liefgehad het, hoe ongeveinsd jou hart vol liefde vir jou God was. Herwin daardie ingesteldheid � en dis nie moeilik nie.
Mense s�, ag wel, die gevoel is weg. Hoe kan ek dit terugkry? 'n Gevoel is mos maar net 'n gevoel. Moenie op die gevoel konsentreer nie. Besluit: Here, ek wil U liefh�. Maak 'n punt daarvan elke keer wanneer jy iets vir God doen, wanneer jy vir Hom arbei, 'n valse lering beveg, bid in jou hart en s�: "Here, ek doen dit vir U, ek doen dit want ek het U lief." Maak 'n sakrament daarvan, en maak seker dat jou hart met liefde gevul is, dat jou ingesteldheid een van suiwer liefde is en dat jy dit wat jy doen vanuit daardie ingesteldheid doen. Dan doen jy weer jou eerste werke en as jy jou eerste werke doen, dan sal jy jou eerste liefde herwin. Dis wat die gedeelte s�. Laat jou dienswerk voortvloei uit 'n hart vol liefde vir jou God. Op 'n persoonlike noot kan ek net getuig dat dit op my knie� gebeur. Moenie net vir al jou probleme bid nie. Party mense begin so bid: Here help my, help my hier en help my daar. Moenie net die hele tyd daaroor bid nie. Begin soos Jesus Christus vir ons in die "Onse Vader" geleer het. Hoe't Hy begin? Hy't begin om God te aanbid. Hy't ges�: "Laat U Naam geheilig word." Begin s�. Begin besef dat ons 'n God aanbid wat groot is. Dink daaroor, mediteer oor die grootheid van God. Dink aan sy goeie werke, nie net in jou lewe nie, maar in hierdie kerk en in hierdie land. Hoe goed sorg Hy nie vir ons nie! Oordink dit diep en dan kan jy aangaan en vir andere en daarna vir jouself bid. Ek stel dit voor want op hierdie manier bring jy in fokus wie jou God is. Dis gemeenskap met die Vader, dis aanbidding van die Here.
WAARSKUWING
Dis soos ons die regstelling moet maak as ons ons eerste liefde verlaat het. As ons dit nie doen nie, dan is daar 'n waarskuwing in vers 5. Hy s�: "Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie." As jy nie hierdie belangrike opdrag gehoorsaam nie, dan is daar 'n gevolg. Die gevolg vir die gemeente in Efese was dat hulle kandelaar verwyder sou word. Wat is die kandelaar? Dis die kerk, die kerk sal verwyder word. Christus s� as hulle hulle nie bekeer van hierdie sonde van liefdeloosheid nie, dan sal Hy hulle ont-kerk, Hy sal hulle as kerk ongedaan maak.
BEMOEDIGENDE SLOTWOORDE
Dan s� Hy laastens vir hulle in vers 6 Hy wil hulle bemoedig, hulle doen sommige dinge reg. Na al die aanklagte en die waarskuwing kom hierdie bemoediging: "Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikola�ete haat, wat Ek ook haat." Hy s�, julle haat wat Ek ook haat, dis darem goed. Dis nie die beste nie. As jy haat wat God haat beteken dit nie jy het God lief nie. Maar dis 'n goeie ding om te haat wat God haat en dit het hulle darem gedoen. Jesus Christus bemoedig hulle hier en s� vir hulle, hou net aan hiermee, doen net beter. Dan is daar 'n verdere bemoediging in vers 7, die laaste gedeelte: "Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe�" As jy volhard en oorwin wag daar vir jou die kroon van die ewige lewe by God in sy paradys! Dit is gegee om hulle aan te moedig om te doen wat gedoen moet word, om hulle eerste liefde te herwin, maak nie saak wat die koste is nie.
Wat sal ons vir mekaar op hierdie oggend s�? Wel, miskien moet ons dit s�: wees lief vir God, met jou alles. Is dit nie die eerste en belangrikste gebod nie? Wees lief vir jou God. Het jy jou eerste liefde verlaat? Herwin dit, strewe daarna om jou God beter te leer ken. Strewe om gemeenskap met Hom te h� en jou in Hom te verlustig. Strewe daarna om verblind te word deur 'n heilige kennis van God se bestaan, soos jy die woorde van die Skrif indrink. As ons die Bybel bestudeer, dan manifesteer God Hom tot ons, en ons sien Hom vir wie Hy is. Dit laat ons partykeer sprakeloos van heilige vrees vir wie Hy is. Herwin daardie posisie van absolute agting vir jou God en liefde vir Hom, vir wat Hy gedoen het soos ons aan die nagmaalstafel gedenk. Besef jou sonde, bekeer jou daarvan en beweeg in die teenoorgestelde rigting.
Kom ons luister wat vers 7 s�: "Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes s�."